Suigstokkies sorg vir konsternasie by skool

Sowat 40 kinders het siek geword nadat hulle suigstokkies by ‘n skool se markdag gekoop het. (Foto: Verskaf)

ʼn Skool in KwaZulu-Natal se markdag is terstond beëindig toe talle leerders begin kla het van naarheid en maagpyn en inderhaas hospitaal toe gejaag moes word.

Die bron van die olikheid blyk toe suigstokkies te wees wat een van die leerders as deel van markdag by die skool verkoop het. “Reaction Unit SA (Rusa) het Vrydag teen 11:40 ʼn oproep om hulp van ʼn onderwyser van ʼn skool in Veralum ontvang. Die onderwyser het verduidelik dat verskeie kinders, tussen die ouderdom van vyf en 13 jaar, hul onderwysers genader en gekla het van erge maagpyn, naarheid en selfs probleme met asemhaling,” het Rusa in ʼn verklaring gesê.

Dié leerders het almal suigstokkies geëet wat hulle by een van die ander leerders gekoop het.

Kinders het gekla van maagpyn en naarheid. (Rusa)

“Lede van Rusa se span is onmiddellik na die skool toe, waar hulle die meeste van die siek leerders in die skool se parkeerterrein aangetref het. Paramedici van verskeie ambulansdienste het kort daarna ook op die toneel aangekom en die kinders ondersoek.”

Volgens die nooddiens IPSS Medical Rescue het omtrent 40 kinders siek geword.

Die meeste van die kinders is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en ander se ouers het hulle na ʼn mediese fasiliteit vervoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adri ·

Sou graag meer oor die suigstokkies wou verneem. Is dit algemeen beskikbaar? Waarvoor moet ons oplet?

Faraway ·

Ek lees elders dis XPOP Energy Red Dragon Lollipops . . . Die Vervaardigers is besig met n ondersoek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.