Sukkelende dierekliniek beroof

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Gewapende rowers het Woensdagoggend by die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap toegeslaan en die dag se inkomste bestaande uit kosverkope en konsultasiegeld gesteel. Dié dierekliniek sukkel reeds om kop bo water te hou te midde van die nasionale afsondering.

Marcelle du Plessis, woordvoerder van Mdzananda-dierekliniek, het in ’n verklaring gesê ’n groep gewapende mans het ’n werknemer by die kliniek se voetgangerhek oorrompel toe die werknemer dié hek oopgemaak het om ’n groot hond aan sy eienaar te oorhandig. Die dier is by die kliniek behandel.

Die hek bly bedags gesluit gedurende die afsonderingstydperk om die verspreiding van Covid-19 te beperk en word slegs oopgesluit vir aflewerings of wanneer ’n groot hond in- of uitgelaat word, verduidelik Du Plessis. “Ons neem sommer die troeteldiere by die hek aangesien die meeste klein troeteldiere deur die tralies van ons hek pas.”

Volgens Du Plessis het ’n groep gewapende mans die hek oopgestoot toe die werknemer die hek oopgemaak het om die hond aan sy eienaar te oorhandig.

Drie skootrekenaars, drie selfone en televisies is gedurende die voorval gebuit, saam met ’n boks met die dag se inkomste bestaande uit kosverkope en konsultasiegeld. Die voorval het in die oggend gebeur, wat beteken dat die kliniek gelukkig nog nie soveel konsultasies en verkope hanteer het nie, verduidelik Du Plessis.

Die Mdzananda-dierekliniek moes egter sy deure vir die res van die dag sluit.

“Ons werk reeds onder soveel druk. Om die risiko van infeksie te verminder, word ons personeel in twee spanne verdeel om op ’n rotasiestelsel te werk. Dit beteken dat ’n halwe span met net soveel diere as voor die afsonderingstydperk moet werk. Ons is almal geweldig gespanne. Ons ontvang ook woedende oproepe, e-posse of sosialemediaboodskappe van mense wat kla dat ons nie vinnig genoeg na hulle terugkom nie, maar ons doen die beste wat ons kan. En nou gebeur dit. Dit is regtig net hartverskeurend,” het Du Plessis gesê.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unplash)

Maroela Media het vroeër berig die kliniek trek finansieel geweldig swaar weens die afsonderingsregulasies en het reeds R108 000 aan inkomste verloor.

Dit is onder meer omrede hulle nie meer geld uit diere-aannemings kan kry nie. Mense kan ook nie meer die mediese koste verbonde aan die behandeling van hul troeteldiere betaal nie. Du Plessis het ook gesê die organisasie sou ’n verdere R72 000 verlies gely het nadat die afsonderingstydperk met nóg twee weke verleng is.

Veiligheid moet nou by die dierekliniek opgeskerp word, verduidelik Susan Wishart, bestuurder van die dierekliniek. Die kliniek beplan om hul sekerheidskameras aan te pas en ’n sekerheidswag aan te stel. ’n Kleiner “hondehek” sal ook aangebring moet word. Dié maatreëls kom natuurlik teen ’n prys. “Die werklikheid is ook dat ons op een of ander stadium ons hekke sal moet oopmaak om ons personeelvoertuie en ons ambulans in en uit te laat,” verduidelik Wishart.

Luidens die verklaring het die roof nog meer emosionele en finansiële spanning veroorsaak, bo en behalwe die finansiële probleme wat die kliniek reeds ervaar.

“Die kliniek het aansienlik meer uitgawes. Ons moet noodgedwonge medisyne van duurder alternatiewe verskaffers aanskaf omdat van ons gereelde verskaffers ten tyde van die afsondering nie medisyne kan verskaf nie. Daar is nie geld in ons begroting om hierdie ekstra koste te dek nie,” het Du Plessis verduidelik.

Maak gerus hier ’n donasie aan die Mdzananda-dierekliniek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

Wanneer gaan dit ophou? Te midde van al die druk wat ons het, moet jy nog hierdie ook nog verwerk.
Ek sal graag ‘n bydrae wil lewer om die kliniek te help om die diere, wat nie hulself kan omsien nie, te help. Wie moet ek nader? Mens mag nie mense dood wens nie, so ek hoop die gemors kry ‘n groot maagpyn

Ann ·

Sandra, kyk aan die einde van die berig, daar is ñ link om te kliek om ñ bydrae te maak.

Anel ·

En nou kan geen beskrywing gegge word nie, want almal dra maskers. So kring televisiekameras gaan ook nie werk nie. So jammer vir die diere maar hierdie goed gaan net al meer word en die regering gaan nie vinger lig nie. Baie bang vir die virus. Te hel met misdaad!

JANINE ·

Sandra in die berig is ‘n plekkie waar jy kan kliek om donasie te maak.
Berigte soos hierdie maak my woedend! Onder normale omstandighede gaan dit reeds moeilik vir shelters om hul deure oop te hou. Mense steriliseer nie hulle diere nie, inentings gebeur nie, ondersteun puppy mills en onverantwoordelike telers en dan word hulle nog beroof ook. Hierdie dierekliniek doen ongelooflike goeie werk met baie min vir die nie-blanke gemeenskap se diere maar niks word waardeer nie.

Jurg ·

Bitter jammer ons shelters sukkel ook vir oorlewing huur, kos, veeartse moet betaal word en geen geld kan inkom nie. Dit is ‘n bose kringloop wat georkestreer word deur paar mense wat baat vind by dit

johanf ·

Hierdie is nou meer as vieslik, dit is ook ń nooddiens, en so loop die menslike nooddienste ook deur. My simpatie met julle.
Hoop die onmenslike minsdadigers word spoedig gevang en ordentlik gestraf…..
Dit sou ń voorreg wees om die regter van die saak te wees. !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.