Sundra-plaasaanval: Verdagte in hof

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

ʼn Verdagte wat vroeër vandeesweek na bewering saam met twee makkers op ʼn plaas in die omgewing van Sundra in Mpumalanga toegeslaan en probeer het om die plaashuis te betree, sal Vrydag in ʼn hof verskyn.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die 30-jarige verdagte sal na verwagting in die landdroshof in Delmas verskyn nadat hy ná die aanval Woensdag in ʼn hospitaal opgeneem en sedertdien onder polisiebewaking is.

Een van die verdagte se makkers is gedurende die voorval glo deur lede van die plaaswag doodgeskiet terwyl die ander op die vlug geslaan het. Dié is steeds soek.

Maroela Media het vroeër berig ʼn egpaar, onderskeidelik 66 en 64 jaar oud, was Woensdagoggend tuis waarna die man na die plaas se hoofhek is en sy vrou alleen in die huis agtergebly het.

Drie verdagtes het die huis genader en die vrou beveel om die veiligheidshek van die huis oop te sluit. Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen uitgepluk en die hek probeer oopkry, waarna die vrou kamer toe gehardloop en ʼn vuurwapen uit die kluis gekry het.

Die verdagtes het steeds gespook om die veiligheidsdeur oop te kry toe die vrou vanuit die slaapkamer teruggekeer en skote op hulle afgevuur het. Dit het hulle laat vlug.

Volgens Hlathi het ʼn speurder wat oorkant die betrokke plaas woon omstreeks 06:45 op pad werk toe skote gehoor en die plaaswag ontbied.

Die speurder en lede van die plaaswag het die rowers agternagesit waarna die verdagtes op hulle geskiet het. Die lede van die plaaswag het teruggevuur en een van die aanvallers is doodgeskiet.

Die verdagte, wat vandag in die hof verskyn, het ook ʼn skietwond in die proses opgedoen, maar is in hegtenis geneem terwyl die derde verdagte op die vlug geslaan het.

Hlathi doen ʼn beroep op mense om enige inligting wat tot dié verdagte se inhegtenisneming kan lei by speur-AO Eddie Raphakgadi by 082 499 3149 of die Stop Misdaad-nommer by 08600 1011 aan te meld.

Die polisie ondersoek ʼn saak van gepoogde huisroof, moord, poging tot moord asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herpiet ·

Gaan besoek die boewe in die hospitaal en vra wie hulle gestuur het om boere aan te val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.