Suurstof, hospitaalopname nie só nodig vir Omikron-pasiënte

(Argieffoto: Getty Images/AFP)

Daar was die afgelope vier weke ʼn beduidende toename in die getal nuwe Covid-19-infeksies in Gauteng wat grootliks aan die nuwe Omikron-variant toegeskryf word. In dié stadium lyk dit of die simptome egter betreklik matig vir die meeste pasiënte was.

Dr. Fareed Abdullah, direkteur van die kantoor vir Vigs- en TB-navorsing by die Mediese Navorsingsraad (MNR), sê die grootste waarneming wat die afgelope twee weke gemaak is, was dat die meeste pasiënte nie van suurstof afhanklik was nie, nie so lank in die hospitaal hoef te bly nie en gewoonlik nie hoë- of intensiewe sorg benodig nie.

Boonop is Covid-19 in die meeste gevalle toevallig opgespoor nadat pasiënte vir ander mediese, chirurgiese of verloskundige redes opgeneem en roetinematig vir die koronavirus getoets is.

Abdullah sê dít wat nou ondervind word, is ʼn prentjie wat nie in die vorige virusvlae gesien is nie. Tydens die aanvang van die vorige vlae was daar volgens hom gewoonlik net enkele pasiënte wat nié suurstof benodig het nie. Boonop was hulle gewoonlik in die herstelfase terwyl hulle gewag het vir die oplossing van ʼn onderliggende siektetoestand wat hulle reeds voorheen gehad het.

“Die Covid-19-saal is gekenmerk deur die meerderheid van die pasiënte wat die een of ander vorm van suurstof benodig het, met die onophoudelike geluid van hoëvloei-neussuurstofmasjiene en die gepiep van ventilatoralarms,” sê Abdullah.

Benewens ʼn kleiner behoefte aan suurstof, het die studie ook bevind mense is korter in die hospitaal. Die gemiddelde getal dae in die hospitaal staan die afgelope twee weke op 2,8 vir Covid-19-positiewe pasiënte, terwyl dit oor die afgelope 18 maande op 8,5 dae gestaan het.

Abdullah sê die eerste indrukke van die 166 pasiënte wat sedert die identifisering van die Omikron-variant tussen 14 en 29 November in die Covid-19-sale van die Steve Biko- of Tshwane-distrikshospitaal (SBAH/TDH) ondersoek is, dui daarop dat die meeste opnames vir diagnoses was wat heeltemal onverwant aan Covid-19 was.

Hy waarsku egter dat dit belangrik is om te besef dat die inligting net die eerste twee weke van die Omikron-vlaag in Tshwane verteenwoordig en dat die profiel van pasiënte wat opgeneem word, oor die volgende twee weke ingrypend kan verander. Hy sê daar sal eers dan ʼn behoorlike gevolgtrekking met fyner besonderhede oor die erns van die siekte gemaak kan word.

“Die groot getal toevallig volwasse Covid-19-pasiënte en die verhoogde getal SARS-CoV-2-positiewe opnames onder kinders tussen nul en nege jaar oud, kan ʼn weerspieëling wees van hoër gemeenskapsoordrag in vergelyking met vorige vlae (variante). Dit skakel nie om in hoër opnamekoerse vir ʼn primêre Covid-19-diagnose nie.

“Meer tyd is nodig om vrae oor die erns van Covid-19 wat veroorsaak word deur die nuwe Omikron-variant ten volle te beantwoord,” sê hy.

Abdullah sê een van die beste aanwysers van hoe ernstig ʼn siekte is, kan gemeet word aan die getal sterftes in die hospitaal. Onder die 10 sterftes van pasiënte in die SBAH/TDH-groep die afgelope twee weke, was vier sterftes onder volwassenes tussen 26 en 36 jaar oud en vyf onder pasiënte ouer as 60. Een sterfte was ʼn kind wie se dood onverwant aan Covid-19 was.

Volgens die voorlopige waarnemings was daar die afgelope ruk nie ʼn dramatiese styging in Covid-19-sterftes by hospitale nie. Dit kan egter toegeskryf word aan die gebruiklike gaping tussen aangemelde gevalle en sterftes en ook dié neiging sal oor die volgende week meer duidelik word.

Luidens die studie het die ouderdomsprofiel van pasiënte ook verander – iets wat moontlik toegeskryf kan word aan die inentingspatrone in die provinsie.

Die ontleding van die 166 pasiënte wat by die SBAH/TDH-kompleks opgeneem is, wys dat minstens 80% van opnames pasiënte jonger as 50 was. Altesame 19% was kinders tussen nul en nege jaar oud en die grootste opnamegetal was vir diegene tussen 30 en 39 jaar oud (28%).

“ʼn Sleutelvraag oor die nuwe Omikron-uitbreking is of die erns van die siekte soortgelyk, matiger of ernstiger as die ander variante is, gegewe die groot getal Omikron-mutasies,” sê Abdullah.

Die studie het bevind uit die 38 volwassenes wat teen 2 Desember in Covid-19-sale in die SBAH/TDH-groep was, was ses ingeënt, terwyl 24 nie ingeënt was nie. Die status van agt ander pasiënte was onbekend.

Uit die nege pasiënte met longontsteking was agt nie ingeënt nie en een is ʼn kind. Slegs ʼn enkele ingeënte pasiënt het suurstof ontvang – maar in dié geval weens ʼn ander siektetoestand as Covid-19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Geld en Mag…dis al, wat anders. “Reisverbod op oningeent” word glo ook bespreek…MAGSVERGRYP.

Papsak ·

Nou sit ek maar weer op los mense wat nie wil ent nie julle nie ons baas nie en ja alles is mos civid op alles moet die woordtjie mos verskyn daar nie meer ander siektes nie vir my regeer julle nie jammer

Onnie ·

Dan sal dit nie nodig wees om I inperking weer in te stel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.