Swaar straf vir oud-polisieman wat roof

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Voormalige polisiekonstabel is 20 jaar direkte tronkstraf opgelê nadat hy aan gewapende roof beskuldig is.

Sandile Edward Mroqoza (40) was in Mei 2016 deel van ʼn gewaagde rooftog in Kraaifontein. Beamptes van G4S was destyds besig om geld te vervoer toe ʼn gemerkte polisiebakkie hulle voorgekeer en gedwing het om stil te hou.

Twee verdagtes, geklee in polisieuniforms, het voor uit die bakkie geklim en nog vier, in burgerlike drag, het agter uit gespring.

“Die verdagtes het die bestuurder van die pantservoertuig met vuurwapens gedreig en hom gedwing om die agterkant van die voertuig oop te maak. Hulle het die polisievoertuig tot agter die G4S-voertuig getrek, waar hulle die kluise leeggemaak het,” sê Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke.

Meer as R2,3 miljoen is gebuit.

Die bestuurder en bemanningslid van die pantservoertuig se vuurwapens is gesteel en die bemanningslid is beseer toe hy met ʼn vuurwapen oor die kop geslaan is.

Mroqoza, destyds verbonde aan die Nyanga-polisie, is kort daarna in hegtenis geneem.

“ʼn Swartsak met geld is in ʼn yskas in sy huis gevind,” sê Hani.

Verdere ondersoek het ook gewys dat Mroqoza die polisiebakkie gebruik het en dat dit ʼn aanduiding was dat hy op die misdaadtoneel was.

Brig. Piet Bergh, waarnemende provinsiale polisiehoof in die Wes-Kaap, het die span vir hul ondersoekwerk geloof en sê dit stuur ook ʼn boodskap aan polisiebeamptes dat diegene wat hulle aan misdaad skuldig maak, aan die pen sal ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.