Swaar straf vir plaasaanvaller wat verkrag

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Plaasaanvaller is vandeesweek swaar gestraf nadat hy ʼn vrou in 2019 op ʼn plaas in Oos-Londen verkrag en ʼn pensioenaris amper doodgeskiet het.

Volgens Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het Anele Tonze (33) Maandag in die hooggeregshof in Grahamstad verskyn waar hy 22 jaar tronkstraf opgelê is.

Tonze het in September 2019 by ʼn plaashuis in Cove Rock ingebreek waar hy ʼn aantal items, waaronder ʼn 9 mm- Makarov Short-pistool en sewe 9 mm-patrone, gesteel het.

Hy het toe na ʼn woonstel op die perseel gegaan waar ʼn 35-jarige vrou woonagtig is en die deur afgebreek. Hy het haar met ʼn vuurwapen gedreig en haar selfoon, kontant en parfuum gevat.

“Tonze het die vrou in haar woonstel verkrag en haar hande agter haar rug met ʼn kabel vasgebind,” het Ngcakani gesê.

In daardie stadium het die 65-jarige eienaar van die plaas daar aangekom en Tonze het hom gekonfronteer.

“Hy het die vuurwapen na die man gemik en twee keer die sneller getrek. Gelukkig het die vuurwapen vasgehaak.”

Tonze het toe in die rigting van die plaashuis gehardloop, terwyl die eienaar agter sy motor geskuil het. Tonze het ʼn waarskuwingskoot afgevuur en op die vlug geslaan.

Die beskuldigde is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

Regter John Smith het tydens Tonze se vonnisoplegging gesê hy het begrip vir die beskuldigde se onstuimige kinderjare, maar dit is geen verskoning vir misdaad nie.

“Die verkragting sal langtermyngevolge vir die slagoffer hê wat steeds traumatiese terugflitse oor die voorval kry,” het Smith gesê.

“ʼn Vonnis van 10 jaar is myns insiens ʼn gans te ligte straf wat nie die erns van die saak weerspieël nie.”

Gevolglik het Smith Tonze onder meer 15 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Hy is ook 10 jaar gevonnis vir die besit van ʼn semi-outomatiese vuurwapen, sewe jaar vir poging tot moord en vyf jaar vir huisroof.

Die hof het egter beslis dat die vonnisse, buiten sy skuldigbevinding aan poging tot moord, gelyktydig uitgedien word.

Tonze sal altesaam 22 jaar tronkstraf uitdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

22 jaar tronkstraf is myns insiens glad nie ‘n swaar straf nie. Nadat hy 5 jaar daarvan uitgedien het, kom hy in aanmerking vir parool….. om net weer te verkrag, te roof en te vermoor!

Cherokee ·

Ek praat onder korreksie, maar ek dink jy oordryf.
Ek betwyfel dit dat geweldsmisdadigers so maklik parool toegestaan word.

Frank ·

John Smith vir president!! Onstuimige kinderjare se stert, GEEN versagting by verkragting nie.

Jaada ·

Belaglike vonnis, effektief gaan dit net 5 jaar wees, die feit dat vonnisse gelyktydig uitgedien word is belaglik.

JM ·

Beskuldigde het baie goed geweet dat wat hy doen, verkeerd was. Makliker om te roof, te verkrag en te moor, as om te werk en dít raak die norm in Suid-Afrika. Kinders kry kinders, wat dan op straat beland, sonder enige opvoeding. Norme en waardes is by die agterdeur uit. Ons bevolkingsaanwas is buite beheer.

Genis ·

Dit moet lewenslank wees, en dit moet lewens lank uitgedien word!

Jannie van Niekerk ·

“Stormagtige kinderjare” is GEEN verskoning om so ligte vonnis soos 22 jaar op te lê vir hierdie misdade nie. Plaasaanvalle, verkragting, kindermolestering, transitorowe, motorkapings, moord en dwelmhhandel behoort eintlik met die doodstraf gestraf te word maar aangesien misdadigers se “reg op lewe” hoër geag word as die slagoffers s’n, behoort sulke msidade met lewenslkank sonder parooloorweging gestraf te word.

Kerneels ·

Kan ‘n regsgeleerde asb vir my verduidelik hoekom verkragters nie gekastreer word nie?

Cherokee ·

John Smith het die vonnisse opgelê, maar die ‘hof’ het ‘egter’ besluit dat sommige vonnisse gelyktydig uitgedien word. John Smith het die hof verteenwoordig.

Skappie ·

Net die 10. 7. en 5 jaar is bymekaar getel Wat van die 2×15 jare. Eintlik moes hierdie 52 jaar gewees het. Ons regstelsel is in sy maai in.

Jakes ·

Weereens moet gevra word waarom die gemors in die eerste plek net n 10 jaar vonnis opgele was? As dit nie die regbank onder verdenking plaas nie, dan weet ek nie. Kon die regter of landros se naam nie geplaas word nie?

Hasie ·

Almal het ontstuimige kinderjare gehad maar vele bou ‘ n brug en kom daaroor .Dit is uiters swak verskoning .

AH ·

Myns insiens is 22 jaar hopeloos te min. Dit moes lewenslank sonder die opsie van parool wees. Hy is nog jonk genoeg om weer te verkrag en moor al dien hy die volle 22 jaar uit. Soos almal teen dié tyd weet is daar nie ‘n kans op rehabilitasie in SA tronke nie. Dit is eerder ‘n geval van jou kennis van misdaad verbreed en die volmaakte moord te beplan……

Karina ·

Gevolglik het Smith Tonze onder meer 15 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Hy is ook 10 jaar gevonnis vir die besit van ʼn semi-outomatiese vuurwapen, sewe jaar vir poging tot moord en vyf jaar vir huisroof. 15 + 15 + 10 + 7 + 5 = 52 jaar maar hy sit effektief 22 jaar, na 5 jaar parool? Nee wat die regstelsel is onverstaanbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.