Swaar vonnisse vir plaasaanvallers verwelkom

(Argieffoto ter illustrasie: Maroela Media)

Drie Mosambiekse burgers wat ʼn boervrou van Harrismith en haar werkers aangeval het, is swaar gestraf.

Die gewapende aanval op Magdaleen Britz, Konote Moloi en Samson Tshabalala het in November verlede jaar op die plaas Karkloof plaasgevind. Al drie is aangerand.

Darcio Muchanga, Gerald Nkomo en Fernando Chilembe is effektiewe tronkstraf van 19 jaar opgelê. Die aanklagte teen hulle het ingesluit die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, gewapende roof en poging tot moord.

Jan van Niekerk, die VF Plus se leier in die Vrystaat, het die vonnisse verwelkom en sê vir die strafregstelsel om doeltreffend te funksioneer, is dit belangrik dat dié soort misdadiger swaar gestraf word.

“Die party loof die goeie ondersoekwerk van Bloemfontein se georganiseerde misdaadtak en in besonder adjudant-offisiere EM Mahotsi en JD Engelbrecht wat bygedra het tot die skuldigbevinding en vonnisoplegging van die aanvallers,” sê Van Niekerk.

Magdaleen Britz en haar man, Peet, is in Maart verlede jaar ook aangeval. Hulle woon op ʼn plaas tussen Harrismith en Memel, sowat sewe kilometer noord van Verkykerskop.

Tydens daardie aanval was Peet pas uit die huis op pad na sy landerye toe drie verdagtes Magdaleen in die plaashuis oorval het. Haar hande en voete is vasgebind en lappe is in haar mond gedruk. Iets is oor haar kop getrek terwyl die aanvallers die huis geplunder het.

Hulle het later met vuurwapens, selfone en kontant gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elmarie ·

Dit is nie ‘n swaar straf nie. ‘n Paar jaar later en hulle word op parool uit gelaat

Blikkies ·

Ek stem Elmarie, dit is die ergste deel en dan bly hulle nog aan in die land ook.

Antoinette ·

Misdadigers van buurlande kom te maklik die land in om hier hulle wandade te pleeg. In die “ou dae” was grense behoorlik bewaak. Le misdade voor regering se deur. “Be kind to aliens.’ Thabo Mbeki se woorde nog as ek reg onthou.

Swerwer ·

Ja die vonnis word verwelkom maar nogsteeds is 19 jaar te min. In die eerste plek wat soek hul in ons land.

Jannie van Niekerk ·

Net 19 jaar en dan word dit ‘n SWAAR vonnis genoem?! Hulle mos 1000 keer lewenslank gekry het.

Magda G ·

Hang hulle op. Ons belastingbetalers moet nou weer vir die gemors in diie tronk sorg.
Bring doodstraf terug

jou gewete ·

noem julle dit swaar strawwe, swaar strawwe is lewenslank ( nie 25 jaar) en doodstraf. 19 jaar is effektief hoogstens 6 jaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.