
‘n Grafiese aanduiding van die swaweldioksied wat oor Gauteng versprei (Foto: Gauteng Weather, Twitter)
Pretoria se inwoners kla sedert die naweek op sosiale media oor ’n skerp swaelreuk wat in die lug hang.
Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, sê die reuk is afkomstig van swaeldioksied (SO₂) in die lug wat heel waarskynlik van Sasol se Secunda-aanleg kom. Sterk winde waai dié myndorp se swaelreuke nou direk na Gauteng toe.
Johan Gouws, ’n landboukundige weerkenner, sê die tropiese sikloon Eloise het moontlik veroorsaak dat daar nou ’n tropiese laagdrukstelsel oor Mosambiek is wat die sterk winde wat Gautengers nou voel die binneland instuur.
“Dit is ’n rare gebeurtenis, want Gauteng se wind kom gewoonlik van die noord-noordooste af, terwyl hierdie wind van die suidooste af kom,” sê Johan.
Die wind beweeg kloksgewys en ontstaan in die suide van Mosambiek voor dit suidoos reg oor die steenkoolmyne van Mpumalanga waai. Dit draai dan in ’n noordwestelike rigting sodat dit reg oor Gauteng waai op pad Botswana toe. Die Gautengers kry dus al die reuke vanaf myndorpe soos Kriel en Bethal.
“In die Vrystaat is daar ’n soortgelyke verskynsel. Wanneer die wind vanuit ’n noordoostelike rigting waai, bring dit reën vir die sentrale provinsie. Die boere word dus baie bly as hulle Sasol se fabrieke in Sasolburg, in die noorde van die provinsie, ruik,” sê Gouws.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Eloise of Sasol se skuld? Dit meen dat Sasol se besoedeling hoog is.
Vroeër jare was Pretoria altyd geteister deur die onaangename reuke van die destydse Yskor hoogoonde.
Sedert ek 8 jaar oud was, leef ek al met Sasol 2 en 3 se swaeldampe saam, suid van Secunda.
Dink Pretoria hulle is spesiaal?
Dit kan nie goed wees vir die gesondheid…
Die erge lugbesoedeling van Sekunda teister ons (Rayton omgewing) veral in die winter wanneer temperature dus daal en die wind vanaf die Suid Ooste waai. Behalwe vir die reuk vergitig dit ons. Hoofpyn, sinusitis ens. Die vraag is: wat gaan “hulle” omtrent dit doen? Dié lugbesoedeling pla al vir ‘n hele paar jaar, maar oënskynlik word die probleem nie aangespreek nie.