Swak Afrikaans van LO-vraestel gooi matrieks

(Argieffoto ter illustrasie)

Klagtes oor moeilike of onbillike vraestelle is nie ʼn nuwe verskynsel nie, maar klagtes oor ʼn “moeilike” lewensoriënteringvraestel wat vroeër vandeesmaand deur matrikulante geskryf is, het mense beslis verbaas. Dit lyk boonop of dit veral Afrikaanse leerders is wat aan die kortste ent trek – hoofsaaklik weens die swak taalgebruik.

Christa Durand, adjunkhoof vir akademie by Hoërskool Kempton Park aan die Oos-Rand, sê verskeie leerders, onder wie toppresteerders, het na afloop van die LO-vraestel op 5 September dadelik by hul vakhoofde gaan aanklop.

Die “algemene assessering” is landwyd geskryf en dra 20% by tot matrikulante se finale punt in die vak.

Baie van die vrae was glo uiters dubbelsinning en boonop het die onderwerpe ook nie gestrook met dít wat in leerders se handboeke staan of wat in die klas behandel is nie.

Durand sê die swak vertaling van die vrae in Afrikaans het boonop verdere verwarring veroorsaak en dat daar menige spelfoute was.

Sy meen dit lyk of die vrae moontlik met behulp van die aanlyn program Google Translate vertaal is, aangesien baie van die woorde direkte vertalings uit Engels is, wat nie noodwendig dieselfde betekenis dra nie. Dus het leerders nie verstaan wat nou eintlik van hulle verwag word nie en kon baie vrae glo verkeerd geïnterpreteer word.

Teen Woensdag was daar ook nog nie ʼn Afrikaanse memorandum vir skole beskikbaar nie.

Durand sê dié memorandum moet glo eers aan ʼn kundige voorgelê word, voordat dit na skole gestuur word.

In ʼn terugvoerverslag oor die vraestel, wat Maroela Media onder oë gehad het, word aangedui dat onderwerpe soos spanning, leefstylsiektes, MIV en vigs, konflikoplossings, verandering en die oortreding van mensregte glad nie in die vraestel behandel is nie.

Die verslag dui verder aan dat die CAPS-goedgekeurde handboek, wat al jare in klasse gebruik word, leerders nie toegerus het om die vraestel doeltreffend te beantwoord nie. Dit was ook baie anders as vorige jare se vraestelle en sal veral Afrikaanse leerders weens die vertaling daarvan benadeel.

Die onderwysdepartement het in reaksie op die klagtes oor die vraestel aangedui dat deeglike ondersoek ingestel sal word. Luidens die departement se verklaring word die grootste deel van die vak se assessering deur onderwysers in klasverband gedoen. Hierdie punte en die punte van die algemene assesseringstoets word dan bymekaargetel om leerders se finale punte te bereken.

Die departement sê dat ʼn paneel kundiges die assesseringsvraestel opstel, onder wie vakadviseurs en onderwysers, en dat dit dan na ʼn moderator gaan. Dit word ook ekstern deur Umalusi, die raad vir gehalteversekering, nagesien.

Volgens die departement het die vraestel nie van die kurrikulum afgewyk nie, maar sal dit nietemin hersien word nadat alle vraestelle gemerk is.

Onbillike vraestelle verhoog spanning

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, sê hoewel hy nog nooit in sy loopbaan klagtes oor ʼn moeilike lewensoriënteringsvraestel gekry het nie, is hy nietemin bly dat die departement vinnig opgetree het.

“LO is die laaste vak waaroor kinders paniekerig hoef te raak en hulle behoort nie deur LO benadeel te word nie.

“Dis jammer dat dit gebeur het, want dit ontstel leerders. Vraestelle wat onbillik is, het tog ʼn uitwerking op die vraestelle wat daarna volg omdat leerders gespanne is. Ek hoop regtigwaar dat die departement kennis van die onnodige krisis neem wat nou hier ontstaan het.”

Deacon sê die departement het eintlik goeie interne meganismes, wat moet kan verhoed dat so iets gebeur.

“So, iewers in dié proses het die departement dalk nie die regte mense gehad wat na die vraestel gekyk het nie, of iemand het geslaap.”

Deacon sê goeie nasieners is ook belangrik – veral in ʼn geval soos dié waar ʼn vraag dalk anders geïnterpreteer kan word en leerders steeds ʼn goeie en korrekte antwoord bied, hoewel die persoon wat die vraag opgestel het nie besef het dat dit op twee maniere verstaan kan word nie.

Die LO-vraestelle word nie nasionaal gemerk nie, maar by skole self. Deacon sê hy vertrou dus dat die nodige aanpassings steeds gemaak kan word en dat die vraestel nie tot gevolg sal hê dat leerders druip nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

PieterJ ·

“ʼn paneel kundiges die assesseringsvraestel opstel”. In SA is dit enigeen wat verder as 20 kan tel as hul kaalvoet is.

Nie Verbaas ·

Baie goeie opsomming. Die regering se “kundiges” is ons “gaan terug skool toe” of “bring vir die harlekyn nog wyn” groepie.

Wolfie ·

Jip en daardie paneel word seker betaal met tax geld. Hulle moet seker gehuisves word. Elke probleem wat opduik, word daar ‘n paneel saamgestel om ondersoek in te stel maar resultate is skaars terwyl die geld vloei vir die sogenaamde ondersoek

Wondermaarnet ·

Dit is ‘n vak wat hulle kan uitfaseer vanaf graad 10.

Koos 100 ·

Wou self ook dit voorstel. Dis ‘n tydmors vak om oor eksamen te skryf. As dit moet maak dit ‘n nie-asseserings vak.

Johan ·

Dit kan heeltemal verdwyn…dit en kuns. Maar nou ja, wat gaan our-people dan regkry.

Johann ·

Welkom in die realiteit van Angie en haar kaders se “inclusive” standaard. Nevermind 30%.

otter ·

kom ons beweeg nou weg van die 30% fase af en konsentreer om meer ernstig oor dinge te wees…. Wat se jy ?

SjN ·

Dit sal gebeur as die opstellers 30 persent slaagsyfers hoef te behaal!!

otter ·

kom ons beweeg nou weg van die 30% fase af en konsentreer om meer ernstig oor dinge te wees…. Wat se jy ?

Nie Verbaas ·

30% false daar om te bly. Dit is realiteit. Jy is 100% reg. Dit is tyd vir die departement van onderwys om meer ernstig te raak oor onderwys.

Nici ·

Waarskynlik aspris om die Afrikaners se prestasie in lyn te bring met die res se gemiddeld. Of dalk is hul net regtig baie onbevoeg?

Johan ·

Die swak Afrikaans pas nou aan by SABC2 en KNet se nuusprogramme se onderskrifte! Daar word elke aand liederlike foute gemaak en niemand kla daaroor nie, want ons weet mos wie doen die vertalings en byskrifte……

Mariana ·

Dis hoe hulle Afrikaans teiken. Deur die Afrikaanse leerders te benadeel. Tipies van die minister en haar maatjies. Die meeste van hulle is net daar en het geen benul nie. Kundiges, ja nê.

Wolfie ·

Dra die agbare pres Motsega kennis van die probleem? Hou haar verantwoordelik. Google translate regtig waar? Jy slaan jou naam met ‘n plank op dieselfde manier wat jy ‘n slaggat in ‘n grondpad met teer toemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.