Taakspan aangestel oor N18-ongelukspad

N18-taakspan (Foto verskaf deur die VF Plus)

Die VF Plus het ingegryp ná die gru-ongeluk verlede naweek op die N18 tussen Hartswater en Jan Kempdorp in ʼn poging om die pad veiliger te maak en lewens te red.

Die party het ʼn dringende vergadering met toepaslike rolspelers aangevra om die aangeleentheid te bespreek en oplossings te vind.

Maroela Media het vroeër berig daar is toenemende oproepe en druk op die Noord-Kaapse regering om die “onveilige” N18, veral tussen Hartswater en Jan Kempdorp, dringend op te gradeer en wetstoepassing op dié pad te verbeter. Dit kom ná die grubotsing op 29 Oktober 2022 waarin ses mense, onder wie twee sussies en hul vriendin, dood is.

Busi Mgaguli, waarnemende munisipale bestuurder van die Phokwane- plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat), is versoek om die vergadering in haar amptelike hoedanigheid te belê.

Die vergadering is bygewoon deur Phokwane se verkeersafdeling, provinsiale verkeersafdeling, vervoer, die veiligheids- en skakeleenheid van die polisie in Hartswater, georganiseerde landbou, gemeenskappolisiëringsforums (GPF’s), die burgemeester, speaker, waarnemende munisipale bestuurder, raadslede en die interne ouditspan van die Phokwane-munisipaliteit.

Estelle Davies, VF Plus-raadslid in die Phokwane- plaaslike munisipaliteit, sê tydens die vergadering het die polisie en die verkeersafdeling hul probleme en beperkinge ter tafel gelê.

Die grootste bron van kommer is finansiële tekorte – dit beperk sigbare polisiëring. Die verkeersafdeling het nogtans onderneem om veiligheid op te skerp met meer padversperrings.

Sigbaarheid van sowel die polisie as die verkeersafdeling is ‘n belangrike deel van die plan en volledige verslae word van hulle verwag.

Davies sê ʼn gefokusde taakspan is saamgestel en sal weer op 11 November vergader om voorgestelde oplossings te oorweeg.

Die taakspan bestaan uit die VF Plus se raadslid in die Frances Baard-distriksmunisipaliteit Theo Joubert, lt.kol. Unis Mathlako van die polisie, Surgeon Mmusi van die Phokwane-verkeersafdeling, provinsiale verkeershoof Ingrid Shaping, Christelle Stohman van die Vaalharts-landbou-unie, Johan Heins van die GPF en Thembi Pule, waarnemende bestuurder vir korporatiewe dienste van die Phokwane-munisipaliteit.

Die VF Plus hoop dat dié taakspan daarin sal slaag om tragiese ongelukke in die toekoms te kan voorkom.

“Dit is jammer dat dit nóg ʼn gru-ongeluk waarin jong mense omgekom het, geneem het om tot stappe oor te gaan om die N18 te beveilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Is die pad die probleem of is dit die meestal onbevoegde en ongedissiplineerde padgebruikers?

Willem ·

Nou wil hul taakspan aanstel. Die pad moet altyd in goeie toestand wees

Lillian ·

‘n Taakspan wat net weer geld gaan mors en niks gaan uitrig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.