‘Taalgenoot’-redakteur sterf

Johan Jack Smith (Foto: Taalgenoot/Facebook)

Johan Jack Smith, redakteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se bekroonde tydskrif, Taalgenoot, is Maandagaand onverwags dood.

“Aan almal wat ons ken, almal wat ons liefhet en die voorreg gehad het om vir Johan te kon ken, hy is vanaand net voor 10 aan ʼn hartaanval oorlede. Ek verstaan dit nie, ek weet nie hoe of hoekom nie,” het sy vrou, Almerie Kirsten Smith, Dinsdagoggend op Facebook geskryf.

Mercia Eksteen, die ATKV se hoofbestuurder van kommunikasie, sê Johan het ʼn veelseggende bydrae tot die Taalgenoot en die hele span gelewer. “Hy was iemand wie se kreatiwiteit, aweregse sin vir humor en vermoë om geleenthede raak te sien, ons male sonder tal sonder woorde gelaat het.”

Onder sy leiding was dit nie net ʼn tydskrif wat besonder mooi was om na te kyk nie, maar dit het uitgedaag, die ongewone in die samelewing gevier en gewys Afrikaans is nie verstok en vervelig nie. “Johan het die Taalgenoot uitgebou om jaar ná jaar stof in die oë te skop van ander korporatiewe tydskrifte.”

Mercia het haar medelye namens die ATKV met Johan se familie betuig.

“Johan, ons weet nie hoe ons jou plek gaan vul nie. Jy was vir ons meer as net ʼn kollega, jy was ons vriend, ons ware Noord (soos die kommunikasieafdeling graag na jou verwys het).

“Rus sag en weet dat jy geliefd was en ʼn groot verskil gemaak het. Sterkte aan sy vrou, Almerie, hul seuntjie, Rijger, en Johan se naastes. Ons dink aan julle in hierdie moeilike tyd.”

Johan het in Junie die JC Steyn-beurs vir ʼn MA-student in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang.

Sy debuutroman, Zola, is in 2020 met die Eugene Marais-prys bekroon, en dit was ook op die kortlys vir die UJ-prys en die Rapport-boekpryse vir onderskeidelik beste roman en die rolprentprys.

Vorige skryfwerk uit sy pen het in Op die spoor van (2017) en Nuwe Stemme 6 (2017) verskyn, en hy het ook talle resensies en rubrieke geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Veldskoen ·

Hierdie skielike sterftes raak nou ‘n algemene ding. Baie jammer. Innige simpatie.

Ansie ·

RIV, Johan. Innige simpatie met en stetkte aan Almerie, Rijger en al sy ander geliefdes.

MC ·

Hoe is dit nog moontlik dat mense nie hierdie skielike sterftes verstaan nie, drie jaar gelede was daar nie so iets nie, wat het in die tyd verander. Dit neem egter niks van die seerkry en die hartseer weg nie, my innige impatie aan sy geliefdes. Ek is baie jammer.

Alida ·

Daar was nog altyd skielike sterftes. Net in my familie kan ek so vinnig aan drie dink: 2005, 2010 en 2019, almal aan hulle hart hoewel hulle nie hartprobleme gehad het nie; een 66 jaar oud, een 57 en die ander een net 44. Ook in 2014 drie sterftes binne maande na mekaar in een gesin, almal weens kanker. My innige meegevoel aan Johan se gesin en familie. Hy laat ‘n groot leemte.

Delia ·

Moet net nie die woord vaksien noem nie, want dan sal jou kommentaar telkens net uitgevee word.
Ek wonder of Covid ( nie net die vaksien), stress, aangebore hartprobleme waarvan mense nie weet, al die Monsters en Red Bulls nie dalk bydraende faktore is nie. Amper 40 jaar in n Hospitaal gewerk en kan regtig nie onthou dat sulke jongmense hartaanvalle gekry het nie.

Skappie ·

Sterkte aan sy gesin en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou en julle deur hierdie moeilike tyd wat nou voorle dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.