Tabakboere verwelkom uitspraak in appèlhof teen Dlamini-Zuma

Argieffoto (Foto: klimkin/Pixabay)

Die hoogste hof van appèl het Dinsdag ʼn aansoek deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake teen ʼn bevel van die Wes-Kaapse hooggeregshof van die hand gewys. Die hooggeregshof het bepaal dat afsonderingregulasie 45, die verbod op die verkope van tabakprodukte, onnodig en ongrondwetlik was.

Die hof het egter nie ʼn kostebevel aan die respondente toegestaan nie, omdat daar kruis-appèl aangeteken is teen die uitspraak.

Die respondente was boere, vervaardigers, handelaars en verbruikers op elke vlak van die verskaffingsketting vir tabakprodukte.

Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het in die hoogste hof van appèl aangevoer dat die redes vir regulasie 45 was om menselewens en gesondheid te beskerm en die moontlike druk op die gesondheidstelsel te verlig. Die minister het gesê mediese bewyse in daardie stadium het gewys dat die gebruik van tabakprodukte die risiko verhoog om ʼn meer ernstige vorm van Covid-19 op te doen.

Die minister het aangevoer dat rokers met Covid-19 hoër opnamesyfers vir die hoësorgeenheid het, ʼn groter behoefte het aan ventilators en ʼn hoër sterftesyfer as nierokers.

Die hoogste hof van appèl het bepaal dat die minister onder andere bewys moet lewer dat rook tot ʼn meer ernstige vorm van Covid-19 lei; dat ʼn tydelike verbod op die verkope van tabakprodukte die siektetoestand sal verlig of verminder, en dat regulasie 45 doeltreffend was.

Die hof het bevind dat die minister versuim het om dit te doen. Die hof het bevind dat die wetenskaplike bewyse dat rook ʼn ernstige vorm van Covid-19 veroorsaak, gemeng en nie beslissend is nie. Verklarings deur die Wêreldgesondheidsorganisasie het ook nie die minister se regverdiging vir die verbod ondersteun nie. Daar is geen bewyse dat, om tydelik op te hou rook, enige kliniese belang het vir die erns van Covid-19 nie.

Regulasie 45 het ook nie die getal rokers verminder nie – 90% van hulle het aanhou bly rook.

Die minister het versuim om te bewys dat rokers hoër opnames in die hoësorgeenheid het, ʼn groter behoefte aan ventilators het en dat ʼn hoër sterftekoers onder rokers aangeteken is.

Die bewering dat rook gedragsrisiko verhoog omdat rokers sigarette deel, kon ook nie bevestig word nie. Regulasie 45 het nie rokers verhinder om sigarette te deel nie, aangesien 90% van rokers steeds bly rook het.

Die hof het bevind dat die beperking op die reg tot menswaardigheid, sielkundige integriteit en vryheid om handel te dryf is nie geregverdig nie.

Die hoogste hof van appèl het bevind dat regulasie 45 nie nodig of noodsaaklik was om die publiek te beskerm nie. Die hof het dus die appèl van die hand gewys.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê tabakboere is verheug oor die onlangse uitspraak waar die minister se aansoek met kostes van die hand gewys is. “Die finansiële skade wat hulle gely het kan egter moeilik oorkom word. Tabakproduserende distrikte het groot werksverliese getoon en duisende gesinne is van ’n inkomste ontneem. Die hof het bevind dat die minister inbreuk gemaak het op vier van die vyf grondwetlike regte waarop ons gesteun het en dan ook bevind dat vier van die groot redes vir haar beperkinge ingevolge art. 36 van die Grondwet nie geldig was nie.”

Rossouw sê niemand in die wettige tabakbedryf het getwyfel dat die verbod op tabakprodukte ongrondwetlik, onsinnig en dramaties verpletterend vir die ekonomie en werkgeleenthede was nie maar die tydsverloop in die reg het groot onsekerheid en wantroue in die bedryf veroorsaak.

“Die enigste persone wat by hierdie verbod gebaat het, was dié wat by onwettige handel van sigarette betrokke was,” voeg dr Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai, by.

Saai ondersoek tans die moontlikheid om skadevergoeding namens verwerkers, produsente en werkers te eis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Cherokee ·

‘Regulasie 45 het ook nie die getal rokers verminder nie – 90% van hulle het aanhou bly rook.’
Hierdie sin praat 10% teen dit self.

‘Saai ondersoek tans die moontlikheid om skadevergoeding namens verwerkers, produsente en werkers te eis.’
Sy sal hulp soek by die belastingbetalers.
So bly sy het op haar neus gekyk.

Elizabeth ·

Eis die skadevergoeding wat almal gely het. Die verbod is doelbewus beplan met moetiewe.

Vanessa ·

Sy het die rokers ook laat skade ly met die gemors wat hulle moes rook en die geld wat hulle aan sigarette spandeer het was belaglik. Deur haar onkunde het sy ander se lewens opgevoeter sonder om 2 keer te dink. Jy kan nie net dadelik ophou rook nie. Jy moet mentally voorberei en wil ophou. Ja daar is mense wat dit kan doen maar steeds het hul besluit dis wat hulle WIL doen, Iemand anders kan nie daai besluit v jou maak nie. Soveel besluite is geneem en nie mooi deurdink nie!!! Ja ek stem, dis nie gesond om te rook nie, maar steeds het dit haar nie die reg gegee om alles summier te stop nie!!! Dit is nie aanvaarbaar nie. Eerlike mense moes hul standaarde verlaag het en onwettig sigarette koop. Gaan sy daai mense ook vergoed vir al die duisende rande wat hulle spandeer het om sigarette in die hande te kry!!!

Anel ·

Mooi, nou net ‘n siviele eis teen haar in haar privaat hoedanigheid. Dom ou vrou. Sy hoort in elke geval by die huis op die stoep!!!!

Lewe - is 'n lied ·

Syt mos nou klaar gekry wat sy wou gehad het. Verder sal daar geen dadels van kom vir ons rokers nie.

Cherokee ·

Dit is gedoen om ñ herhaling te voorkom. Maar, dit bly ñ ongesonde en sinnelose gewoonte.

Ettienne ·

Verkeerde invalshoek vir haar argumente. Met skerper en kundiger regsadvies sou sy die saak kon wen.

Schalk ·

Ek is nie self ‘n roker nie en gun elke mens sy plesier maar in die geval is ek bly vir die rokers en verwante vervaardigers en verspreiders se geval. Baie werksgeleenthede is laat val en mense het indirek swaar gekry as gevog van die besluit. Nou is die hok vir onwettige verspreiding oopgemaak en dit gaan moeilik gestop word.

mattk ·

ZUMA – afkorting vir Zero Understanding of Medical Affairs. Synmoes 20 jaar terug al uit die parlement geskop gewees het.

Cindy ·

ek wonder of ek die minister kan dagvaar vir my ellende toe ek basies forseer is om op te hou rook agv van haar “wetgewing”

KatjieDeKat ·

Rook is nie gesond nie, maar wat van Vrye Wil? Take that away and you’re on a Very slippery slope. The slide usually ends in a messy Splat for those whom were deprived of free will.

Louis ·

Die hele verbanning van die verkoop van sigarette was n goed beplande klug. Die Zumas het biljoene rande in daardie tydperk gemaak met onwettige sigarette handel.

Jacobus ·

Wetsgehoorsame burgers wat rook, was gedwonge om “onwettig” sigarette en tabak produkte, wat in elk geval oral bekombaar was, te bekom, selfs uit ons buurlande. Teen geen inkomste vir die staat.
Onwettige handelaars het floreer!
Nou gaan (het) die belasting betalers al weer opgedok vir die verliese?
Gaan Zuma persoonlik verantwoordelik gehou word vir hierdie “slim” besluit? Ek hoop daarvoor.

TRP ·

As mens so daaraan dink kan die staat haar dagvaar vir verlies aan inkomste…nie dat dit ooit sal gebeur maar ja sy het hulle bitter baie gekos in belasting inkomste.

Waarnemer ·

Dit het seker nie in die hof ujtgekom dat kopdoek en haar seuntjie miljarders geword het met hulle onwettige verkope van sigarette gedurende 2020 se pandemie nie?

Cherokee ·

As sy jou raaklees en jy kan dit nie bewys nie, sal sy jòu rook.

Prikkie ·

Ek is verheug oor die hof se uitspraak, nie omdat ek ‘n roker is nie, maar omrede ek verheug is dat die minister se self toege-eiende mag van haar weggeneem is.

En natuurlik gaan daar absoluut niks met haar gebeur nie.

Nico ·

Daar is geen wetgewing wat die rokers sal stop nie, dit is sy gesondheid en sy geld.

Jack ·

Wel bloedbek maar wat van al die ekonomiese skade behalwe die smokkelhandel. Wonder wat het van kopdoek se seun se smokkel geword. Seker niks vervolging weens onvoldoende bewyse of dossier is weg.

JohanR ·

Word daar NOOIT teen ANC’s opgetree al verloor hulle in die hof?

LiveAndLetLive ·

So bly om te sien dat hierdie bedrog spul nie net gelaat is nie, en dat sy aan die wiel gaan moet ry hiervoor – ek sal ook graag die duisende wil terug eis wat spandeer is aan sigarette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.