Talle babas op Kersdag gebore; sommige ma’s self nog kinders

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jimmy Conover / Unsplash)

Die Vrystaatse departement van gesondheid sê 17 van die 128 ma’s wat Sondag op Kersdag geboorte gegee het, is maar tussen 10 en 19 jaar oud.

Die departement het egter nie Maandag verder oor dié skokonthulling uitgebrei nie, en net bygevoeg dat geen tweelinge gebore is nie.

Elke de Witt, waarnemende woordvoerder, sê die eerste Kersdagbaba is om 00:04 by die distrikshospitaal in Bloemfontein gebore en het het 3 kg geweeg. Altesaam 63 dogtertjies en 65 seuntjies het hul opwagting op Kersdag gemaak.

Benewens die Vrystaat is altesaam 719 Kersdaggeboortes in onderskeidelik Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal aangemeld.

In Gauteng is 432 geboortes aangeteken, van wie 217 seuntjies en 215 dogtertjies. Volgens die Gautengse departement van gesondheid is vyf stelle tweelinge gebore.

In die Wes-Kaap het 188 pienkvoete hul opwagting gemaak, van wie 122 seuntjies en 66 dogtertjies.

Die eerste Wes-Kaapse baba, ʼn dogtertjie, is om middernag in die Groote Schuur-hospitaal gebore en het 3 kg geweeg. Net ʼn minuut later is nog ʼn babadogtertjie in dieselfde hospitaal gebore. Sy het ook 3 kg geweeg.

Twee stelle tweelinge is ook in die provinsie verwelkom.

Die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal sê 99 babas is op Kersdag in dié provinsie gebore, van wie 53 seuntjies en 46 dogtertjies. Een tweeling is aangeteken.

Die getalle in die onderskeie provinsies kan verander namate nog geboortesyfers by provinsiale departemente aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.