Talle huldeblyke vir ‘omgeemens’ Franci Swanepoel

Franci Swanepoel. (Foto: Facebook/Getroud met rugby – kykNET)

Die Afrikaanse vermaakbedryf is geruk deur die dood van die aktrise, aanbieder en vervaardiger Franci Swanepoel.

Swanepoel, wat onder meer bekend was vir haar rol as Toeks Joubert in die kykNET-sepie Binnelanders, is Saterdagaand in die ouderdom van 50 oorlede. Sy het glo in haar slaap gesterf.

Huldeblyke stroom sedertdien in vir die aktrise wat ook as aanbieder en vervaardiger van die kykNET-leefstylprogram Fiësta ʼn bekende gesig in sitkamers landwyd was. Sy het ook onlangs in die dramareeks Spoorloos 3 verskyn.

Marius van der Wal en Jeanine Snyman, Swanepoel se sakevennote wat saam met haar die produksiemaatskappy bestuur het wat onder meer Fiësta vervaardig het, sê sy het ʼn blywende indruk op die kunstelandskap in Suid-Afrika gemaak.

“Almal wat vir Franci geken het, weet dat sy ʼn fenomenale aktrise en ʼn kragtoer van ʼn mens was. Sy het mense aangeraak met haar warmte, passie, vurigheid en baie, baie liefde. Sy was vinnig kwaad en net so vinnig weer vol liefde,” sê Van der Wal en Snyman.

“Sy was uiters professioneel en ʼn perfeksionis om mee saam te werk. Sy was ʼn omgeemens wat alles sou doen vir vriende en kollegas, maar ook vir dié wat nie noodwendig ʼn stem het nie.”

Sy het ook ʼn “besondere gawe” vir humor gehad en die vermoë om die spot te dryf – meestal met haarself. “Dit het gesorg vir ure lange plesier. Saam met haar was daar nooit ʼn vervelige oomblik nie. Die bedryf het inderdaad een van sy kleurrykste akteurs verloor.”

Willem Botha en Franci Swanepoel. (Foto: Facebook/Willem Botha)

Die sanger en fotograaf Willem Botha het in ʼn roerende huldeblyk aan Swanepoel op sosiale media gesê hy het haar 16 jaar gelede ontmoet toe sy loopbaan afgeskop het.

“Jy was my ma in die bedryf. My lekkerste lag. My mentor. Met wie ek my hart kon deel. Jy’t elke liewe keer vir my ʼn boodskap gestuur as ek op die televisie was en was my grootste cheerleader,” skryf die sanger.

“My respek en liefde vir jou is onmeetbaar en oneindig. Ek gaan jou humorsin mis. Mag die Here jou die grootste drukkie gee, want ek wens ek kon nog net een keer.”

Die sangeres en aanbieder Leah sê op Instagram sy het uitgesien daarna om binnekort saam met Swanepoel te werk.

“Rus in vrede. Jy het groot spore in die bedryf en in ons harte getrap,” skryf sy.

“Die kykNET-familie treur oor die nuus van Franci Swanepoel se afsterwe,” lui ʼn verklaring deur die kykNET-span.

“Sy het diep spore in die vermaakbedryf getrap as aktrise en vervaardiger, en is beskou as ʼn mentor vir menige jong opkomende akteur. Ons dink aan haar familie en geliefdes in hierdie besonder moeilike tyd.”

In Memoriam – Franci Swanepoel

Die kykNET-familie treur oor die nuus van Franci Swanepoel se afsterwe. Franci was veral bekend vir haar rol as Toeks Joubert in Binnelanders, haar rol in die fliek, Lien se Lankstaanskoene, en as Fiësta-aanbieder. Sy het ook diep spore in die vermaaklikheidsindustrie getrap as vervaardiger, en is beskou as ‘n mentor vir menigte jong opkomende akteurs. Ons dink aan haar familie en geliefdes in hierdie besonderse moeilike tyd.

Posted by kykNET on Monday, October 17, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Roek ·

Sy was “n prins-sewe , baie dankie vir al jou vermaak , Rus sag !

Dirk ·

RIV Franci,jy was beslis een van my gunsteling aktrises.Baie sterkte vir familie en vriende,julle het een pragtige blom verloor hier.

Di ·

Sjoe wat ‘ groot verlies vir ons Afrikaners! Sterkte aan al haar vriende en familie met julle groot verlies. RIV

Leon ·

Fransie Swanepoel wat n besonderse individu , die wereld is nou op n slegter plek met haar vertrek

Vinny ·

Sterkte aan al haar geliefdes, so skok is nie maklik om te verwerk nie (al moet ons almal doodgaan).
Hoop julle vind berusting. Innige simpatie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.