Talle skokke ‘ontspoor’ ekonomiese momentum

Verskeie ekonomiese skokke pootjie die momentum wat in die eerste kwartaal van die jaar opgebou is. (Foto: Maroela Media)

Die verskeie skokke wat die ekonomie die afgelope ruk getref het, het die momentum wat vroeër in die jaar gesien is ontspoor.

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) sê in sy weeklikse kommentaar Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se hoëfrekwensiesyfers (maandelikse en kwartaallikse data) vir die tweede kwartaal, sowel as ʼn afname in sakevertroue, wys watter uitwerking dié skokke op die ekonomie gehad het – hoewel BBP-syfers vir die eerste kwartaal van die jaar minstens veel beter was as verwag is.

Die ekonomie het met 1,9% gegroei, veel hoër as die verwate 1,2%-groei. Dit beteken ook die ekonomie is nou op dieselfde vlak as wat dit voor die Covid-19-pandemie was.

Die oorstromings in KwaZulu-Natal, fase 4-beurtkrag, stakings en probleme met die land spoorvragvervoernetwerk was ʼn remskoen vir die ekonomie.

Een van die jongste ekonomiese skokke is die aankondiging dat Comair, wat plaaslike vlugte van British Airways en die laekostelugredery Kulula bedryf, gelikwideer gaan word. Comair is verantwoordelik vir 40% van alle plaaslike vlugkapasiteit, maar die maatskappy kon nie die finansiering bekom wat nodig is om vlerke in die lug te hou nie.

Die onmiddellike uitwerking is werksverliese – Comair het meer as 1 000 mense in diens – en ʼn verwagte skerp styging in die prys van vliegkaartjies.

Die BER sê ander rederye sal mettertyd die gaping vul wat Comair laat, maar voorlopig gaan hoër kaartjiepryse bydra tot plaaslike inflasionêre druk.

Op politieke front woed ʼn storm steeds oor die diefstal van miljoene dollar op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas. Daar is boonop al hoe meer druk op Suid-Afrika se eerste burger nadat hy die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, geskors het skaars ʼn dag nadat sy aangekondig het dat sy ʼn ondersoek na die voorval van stapel stuur.

“Die aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie in Desember sou altyd morsig wees, met bewerings en smeerveldtogte teen die voorste aanspraakmakers. Eweneens het die president sleutelvrae om te beantwoord. Dit sluit in of die gesteelde kontant by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Reserwebank verklaar is,” sê die BER.

Die BER meen ten spyte van die jongste terugslag is Ramaphosa steeds op dreef vir ʼn tweede termyn as ANC-president.

“Die skade weens bewerings van onbehoorlikheid teen iemand wat gesien is as ʼn kampvegter teen korrupsie in die regerende party, kan verdere skade aan kieserspersepsies oor die ANC veroorsaak,” waarsku die BER.

Die ANC was reeds op ʼn gevaarlike afdraande pad by kiespunte selfs voordat die vrae oor Ramaphosa se optrede na afloop van die diefstal bekend geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Talle skokke ‘ontspoor’ ekonomiese momentum moet lees ANC “ontspoor” ekonomiese momentum.

Andries ·

Daar is ooreengekom, em MM het juis die berig geplaas, dat daar glad nie ‘n verhoging gaan wees met kaartjie verkope nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.