Talle staproetes in Kaapse Skiereiland gesluit weens brande   

Brande in die Kaapse Skiereiland is glo deur weerlig veroorsaak. (Foto: Facebook / WSAR)

Verskeie brande in die omgewing van die Tafelberg Nasionale Park (TMNP) in die Wes-Kaap het die sluiting van talle gewilde staproetes en voetpaaie genoodsaak.

Volgens Wilderness Search and Rescue (WSAR) is die brande wat Saterdag in die park aangemeld is, deur weerlig veroorsaak.

Gebiede wat geraak word, is die Cecilia-bos, Silwermyn en die hoofroete na Kaappunt.

Die brande is tans onder beheer en verskeie nooddienspanne, insluitend die park se eie reaksiespanne, Kaapstad se brandweerdienste en vrywilligers van WSAR, was Sondagoggend steeds op die toneel.

Brande in die Kaapse Skiereiland is glo deur weerlig veroorsaak. (Foto: Facebook / WSAR)

“TMNP het brandbestryders van die hoofroete na Kaappunt na ʼn brand bokant Skeleton Gorge en die Hely-Hutchinson-reservoir teen Agter-Tafelberg in die park herontplooi,” het die WSAR Sondag gesê.

“Brandweerspanne en lughulpbronne is met dagbreek vanoggend [Sondag] ontplooi om die brand bokant Skeleton Gorge in bedwang te bring en te bestuur. Lugsteun moet ongelukkig weens sterk wind gestaak word, totdat dit weer veilig is om waterbomme uit die lug te gooi.”

Staproetes wat intussen gesluit is, is die roetes van Gifkommetjie tot by Sirkelsvlei en alle roetes uit die rigting van Olifantsbos. Die Sirkelsvlei-staproete en Linkweg-fietsryroete by Kaap die Goeie Hoop is ook geraak en tot verdere kennisgewing gesluit. Die sirkelroete is ook as voorkomingsmaatreël gesluit.

Alle voetpaaie van Kampsbaai en Houtbaai na Agter-Tafelberg is gesluit. Staproetes by Constantianek, die Cecilia-bos, Kirstenbosch en Oranjekloof is ook toe.

Besoekers aan die park word gemaan om uiters versigtig te wees – veral in die omgewing van Silwermyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.