Taverne-slagtings dui op ‘diepliggende probleme in polisie en strafregstelsel’

Polisiebeamptes op die toneel in Soweto (10 Julie 2022) (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die reeks skietvoorvalle sedert Donderdag in tavernes in Pinetown, Pietermaritzburg, Katlehong en Orlando in Soweto, dui op diepliggende probleme in die polisie en ernstige gebreke in die strafregstelsel.

Tot dusver is 19 persone in die voorvalle dood en 22 beseer waarvan etlike in ʼn kritieke toestand is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep mans, gewapen met gewere en 9 mm-pistole, het Saterdagaand omstreeks 00:30 ʼn kroeg in Nomzamo- informele nedersetting in Orlando-Oos, Soweto betree en lukraak op die klante losgebrand. Nog een persoon het Sondag aan hul beserings beswyk en die dodetal staan tans op 15. Agt persone word in die hospitaal vir hul skietwonde behandel.

Maroela het ook berig vier mense is Sondagoggend omstreeks 03:30 dood tydens ʼn skietery in ʼn kroeg in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Agt persone is beseer.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus sê die party simpatiseer met die naasbestaandes van die slagoffers. “Die gebreke in Suid-Afrika se strafregstelsel word onderstreep deur die feit dat ʼn misdadiger se kans om weg te kom met misdaad, sowat 80% is. Misdadigers vrees nie meer die polisie nie en hulle word nie afgeskrik deur ontoereikende strawwe sou hulle wel voor ʼn hof gebring word nie.”

Groenewald meen die land se stygende misdaadsyfers wys lank reeds hierdie gebreke in die stelsel uit.

“Dit blyk ook dat onwettige vuurwapens soos AK47-aanvalsgewere in die skietvoorvalle gebruik is. Private persone mag nie sulke vuurwapens besit nie en dit wys dat die polisie verloor beheer oor die voorkoming van onwettige vuurwapenbesit in Suid-Afrika. Aan die een kant probeer die regering wetsgehoorsame burgers ontwapen terwyl misdadigers duidelik nie sukkel om onwettige wapens en ammunisie te bekom nie.”

Hy sê Suid-Afrika het wel goeie wetgewing om misdaad te bekamp. Die probleem lê egter by die toepassing daarvan. “Dit plaas ook die optrede van Bheki Cele, die minister van polisie, in perspektief wat sy humeur verloor wanneer hy oor die misdaadprobleem in die land gekonfronteer word. Die tyd het aangebreek dat daar opgetree word om gewone landsburgers teen misdaad te beskerm. ’n Goeie vertrekpunt sou wees om Cele te vervang met ’n bekwame persoon wat erns het met die veiligheid van die publiek.”

President Ramaphosa eis optrede ná Soweto-skietery

President Cyril Ramaphosa het intussen sy meegevoel betuig oor die skietvoorvalle wat 15 mense se lewens in Soweto en vier mense se lewens in Pietermaritzburg geëis het. Hy het sy meegevoel betuig met die families van die mense wat hul geliefdes in die twee voorvalle verloor het en wens die beseerde slagoffers spoedige herstel toe.

Die president maan ook veiligheidsagentskappe en lede van die gemeenskap om dringend saam te werk om die oortreders aan te keer.

“As ʼn land kan ons nie toelaat dat gewelddadige misdadigers ons op só manier terroriseer nie, maak nie saak waar dié voorvalle voorkom nie. As ʼn regering, burgers en strukture van burgerlike samelewing moet ons almal saamwerk om die maatskaplike en ekonomiese toestande in gemeenskappe te verbeter, gewelddadige misdaad te verminder en die onwettige sirkulasie van vuurwapens uit te roei.”

Ramaphosa sê elke gewelddadige afsterwe is onaanvaarbaar en kommerwekkend. “Moord op die skaal wat ons in Soweto, Pietermaritzburg en vroeër ook Khayelitsha gesien het, moet ons aanspoor tot ʼn kollektiewe poging om gemeenskappe te bou en Suid-Afrika ʼn onveilige plek te maak vir misdadigers.”

Premier Makhura veroordeel skietery in Soweto, Katlehong

David Makhura, die premier van Gauteng het ook die skietvoorvalle veroordeel.

Buiten die skietery in Orlando-Oos in Soweto, het hy gesê vier mans het Vrydagaand die Mputlane Inn-taverne in Katlehong betree en lukraak op klante losgebrand. “Ses mense is geskiet. Twee is op die toneel dood en twee is na ʼn hospitaal geneem.”

Hy het ook namens die Gautengse provinsiale regering sy meegevoel betuig met al die families wat geliefdes aan die dood afgestaan het. Hy wens ʼn spoedige herstel toe aan almal wat beseer is.

“Ons veroordeel ten sterkste die sinnelose moord op so baie mense. Ons doen ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe om geen steen onaangeroer te laat nie.”

Hy sê die provinsiale regering is geskok, bekommerd en hartseer oor dié gewelddadige moord op onskuldige inwoners. “Hierdie tipe gedrag het geen plek in hierdie provinsie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

SjN ·

Al die kaders veroordeel die optrede maar niemand tree op nie!!!

Hasie ·

Dis omdat die misdadigers totaal en Al beheer het in die land .Strawwe is te lig en die tronke is ‘n vakansie .

Pieter ·

Hierdie soort gebeure tesame met Eskom se sabotasie en terrorisme asook ‘n herhaling van die Julie 2021 onluste (sien Daily Maverick) gaan ‘n bloedige einde bring aan die ANC se heerskappy en hul meelopers.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

En presies wie regeer in 2022 oor Suid-Afrika? Of anders gestel: presies wie regeer in 2022 oor Mzansibabwe?
‘n Doeltreffende en effektiewe Suid-Afrikaanse kriminele regstelsel in 2022: ‘n droom of drogbeeld?

Nationalist ·

Die polisie is van bo af vrot, kyk net na Cele en sy houding… ‘Fantastiese’ rolmodel vir polisiediens.

Perdeby ·

My mense jy kan ook nie verwag dat daar by elke tavern ‘n Polisie wag moet wees nie.

LeonS ·

Dit gaan nie daaroor nie,die kriminele,moordenaars het geen respek vir sap nie.Lees van Al die dosiere wat nie opgevolg word nie,so wegkomkans is baie groot

Grassie ·

Ramampara sê die oplossing is om gemeenskappe te bou en SA ‘n onveilige plek te maak vir misdadigers. Hy en sy trawante het in 1994 ‘n land wat wel so was op ‘n skinkbord gekry en hom opgemors tot vandag se status. Daar is geen manier waarop hulle die probleem kan oplos nie behalwe om hul beheer oor die land te verloor.

Ek sien hulle praat in die berig van Cele ook. Ek het ook iets vir die die man met die hoed te sê:

VOETSEK……………VOETSEK…………………..VOETSEK

piket ·

Nou kyk nou so vir “demokrasie”. Die misdadigers wat ( help my reg ) so 1 – 5 % van die bevolking uitmaak, regeer die res. Die vrot koppe van demokrasie ( wat deel is van die 1- 5 % ) orkestreer hierdie geweldsmisdade, net soos met die tyd van die halssnoermoorde. Nou wil hulle skree van sinnelose moorde! Wat van elke plaasmoord? Is dit nie sinneloos nie? Nee meer nog, dis verkragting van die reg van die mense wat hieronder moet deurloop!

Watsenaam ·

Punt1) Daar sal geen vrede in die land wees solank die burgers van hierdie land aanhou om die blaam
vir hulle slegte gedrag op ander pak nie.
Punt2) Die spreekwoord se: wat jy saai sal jy maai.
Punt 3) ‘n Vis vrot van sy kop af.
Jy maak my seer, ek maak jou seer. Die Engelse noem dit “Tit for Tat”
Ons verlang terug na die goeie ou dae, hou net moe, een van die dae het ons weer: grond paaie, koolstowe, olielampe, kerse, en bad ons weer in sink baddens met water wat op die koolstoof warm gemaak is. Sterkte. NS. N stukkie raat aan die regering,kommandeer al die ouens wat so lekker ledig by huise sit, op vir militere diens en stuur hulle Mosambiek toe .

duiweboer ·

Dit is nie die polisie nie. Dit is regs stelsel. As hulle Vas gevat word is hulle Binne dae weer uit op Parool. So hulle voel niks vir die gereg nie

Miena ·

Het ek iets erens gemis – hoekom word die ouderdomme nie van die slagoffers deurgegee nie? so sal die mensdom opkom en opstaan in geweld broer teen broer neh. Net jammer as dit gebeur is dit so min op n slag of dis eintlik onksuldige mense wat sterf.

Swerwer ·

Nou doen iets omtrent die probleem. Sluit alle Tavernes want dit is ‘n onding en begin die kader maniere leer en opvoeding gee oor wat reg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.