Taxi-stakings in die Kaap gaan voort

[Foto: Twitter]

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het Sondagaand aangekondig dat die stakings Maandag hervat word en tot Woensdag sal voortduur. Die raad het egter ’n beroep op alle taxi-operateurs gedoen om nie met ander openbare vervoer in te meng nie.

Dit volg nadat Santaco se leierskap teen Sondagaand ná talle gesprekke die afgelope naweek nog nie met die Wes-Kaapse regering en Stad Kaapstad ’n ooreenkoms kon bereik nie. Die gesprekke was opgeskort.

Luidens ’n gesamentlike verklaring deur die Wes-Kaapse regering en die stad is daar groot teleurstelling oor die verklaring wat Santaco oor die naweek uitgereik het, wat bepalings en wysigings bevat wat nie tydens die uitgebreide samesprekings ter tafel gelê of ooreengekom is nie.

“Saam met die stad het ons Vrydag ’n voorstel voorgelê om die uitwerking van skut op taxi-operateurs te verlig, terwyl ons die verwikkelde uitdagings rakende bedryfslisensies en ander kwessies oplos. Ongelukkig is Santaco se bykomende eise nie wetlik toepasbaar nie en sal verbintenisse op langer termyn met die nasionale regering en ander rolspelers vereis. In hierdie stadium het ons baie min opsies oor as Santaco nie na die tafel terugkeer en die gesamentlike werk van ons minibustaxi-taakspan hervat nie,” het Ricardo Mackenzie, minister vir stedelike mobiliteit in die Wes-Kaap, gesê.

“Die bepalings van die aanbod is baie duidelik gekommunikeer, mondeling én skriftelik, en sal afhanklik wees van ’n ooreenkoms tot die herstel van taxidienste en vrede.”

Van die eise wat in Santaco se verklaring weerspieël word, is toelaes vir taxi’s om voorrang te hê in geel en rooi bane tydens spitstyd, toelaes vir verkeersbelemmering, en ’n opskorting van voorwaardes met betrekking tot bedryfslisensies.

“Daar moet kennis geneem word dat daar geen meganisme in die wet is wat ’n opskorting op die voorwaardes van bedryfslisensies toelaat nie, en die stad het ook nie die magtiging om wysigings aan die wette vervat in die nasionale Gondvervoerwet aan te bring nie,” het Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, gesê.

“Hierdie afwyking, tesame met die verbreking van die ooreengekome embargo van die inhoud van die onderhandelinge tot nadat die partye Sondag weer byeengekom het, wek ernstige kommer oor die opregtheid en toewyding van Santaco om in goeder trou tot ’n besluit te kom. Hulle ondermyn ook die vertroue en samewerkende gees wat sentraal in ons onderhandelinge gestaan het.”

Volgens die provinsiale regering en die stad het die gepaardgaande geweld, intimidasie en vernietiging wat die stakers toon, gemeenskappe geterroriseer en enorme druk op noodsaaklike dienste en wetstoepassing geplaas.

“Mense kon nie by hul gesinne of by die werk, skool, winkels, klinieke en ander kritiek noodsaaklike terreine kom nie. Hierdie toedrag van sake is onaanvaarbaar en die gevolge is nou ernstig. Baie regeringsdienste, waaronder gesondheids- en maatskaplike ontwikkeling, moet fasiliteite sluit en is nie in staat om broodnodige dienste aan gemeenskappe te verskaf nie,” lui die verklaring.

“Die stad se ander vervoeroperateurs, Golden Arrow-busdienste en MyCiTi, het aangehou om die meeste van hul geskeduleerde dienste onder ongelooflik wisselvallige toestande te laat loop. Hulle het waar moontlik vlootkapasiteit bygevoeg om mense tuis te kry. Golden Arrow kan nou nie in Khayelitsha, Nyanga, Philippi-Oos, Langa en Mfuleni werk nie weens uiterste vandalisme van busse en bedreigings vir die veiligheid van bestuurders en passasiers.

“Ons het probeer om in ’n gees van opregte goeie trou betrokke te raak om die bekommernisse van die bedryf op ’n praktiese en opbouende wyse aan te pak. Die voorgestelde maatreëls vir ’n kompromis het gepoog om ’n balans te vind tussen die afdwinging van verkeersregulasies en die versekering van die gladde werking van die openbare vervoerstelsel, wat noodsaaklik is vir die mobiliteit en lewensbestaan van talle inwoners.”

Volgens Quintas bly die Stad Kaapstad daartoe verbind om ’n wedersyds aanvaarbare oplossing te vind wat die belange van inwoners, die minibustaxibedryf en die algehele welstand van die stad dien.

“Ons doen ’n beroep op Santaco se leierskap om die beginsels van deursigtigheid, integriteit en respekvolle betrokkenheid te handhaaf terwyl ons gesamentlik daarna streef om ’n einde aan die huidige krisis te bring,” sê hy.

“Dit is verder teleurstellend dat die Wes-Kaapse e-taxidiensvereniging (WCEA) sedertdien by die minibustaxi-stakings aangesluit het en ’n onvoorwaardelike moratorium op alle verdere skut eis. Dit is ’n bykomende slag vir pendelaars wat van e-taxidienste gebruik sou maak in die afwesigheid van minibustaxi’s.”

Mackenzie het Sondag bevestig dat die Golden Arrow- en MyCiTi-dienste Maandag sal loop, met behulp van die stad se wetstoepassingsbeamptes.

Die staking het sedert Donderdag die stad in rep en roer en het ’n verwoestende uitwerking oor die hele Kaapstad en die provinsie gehad. Verskeie dienste is weens die staking ontwrig. Talle vervoerdienste en motoriste het boonop ook onder gewelddadige aanvalle deurgeloop.

Lees die vorige berigte oor die stakings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harley Davidson ·

Die premier het gesê vir elke bus of perseel wat beskadig is sal 25 taxis geskud word ,die stakers is so gewoond doen wat hulle wil sonder vrees vir enige nagevolge dat dit santaco tot in hul fondament sal ruk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Taxi eienaars is magtig met ANC verbintenisse. Die bestuurders is net hul voetsoldate.

Nici ·

Hierdie mafia bedryf moet in die bek geruk word. Ek sien geen manier wat dit gedoen kan word as ons nie baie sterker leierskap kry nie.

H.A. ·

Ek sê weer, hulle kan eise stel net soos hulle wil, want hoekom, omdat die taxibedryf groter as die polisie en weermag is.

Karoo ·

Hier by ons in die platteland, behoort AL die taxi’s aan of mense wat werksaam in die weermag is … of die polisie…. en dis dan hoekom hulle “wegkom” met dit wat hulle doen. ‘n Wereld binne’ n Wereld

Karoo ·

Hier by ons in die platteland, behoort AL die taxi’s aan of mense wat werksaam in die weermag is … of die polisie…. en dis dan hoekom hulle “wegkom” met dit wat hulle doen. ‘n Wereld binne’ n Wereld

Republikein in die Wes Kaap ·

En dis een van die kern probleme. Die regering is magteloos en word rondgepluk deur polisie en soldate op die grondvlak.

My siening ·

Mnr Windie moenie toe gee nie die land is wetteloos genoeg tyd om op te tree en die kaders wys wat beteken wet nakoming!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.