Te min dringendheid met gesondheidsombud se aanbevelings

Die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal. (Foto: Facebook)

Daar word steeds nie genoeg gedoen om verkrummelende infrastruktuur, tekorte aan noodsaaklike medisyne en ander items, asook personeeltekorte by die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal (RMMCH) in Johannesburg te takel nie.

Die kantoor van die gesondheidsombud het verlede maand ʼn verdoemende verslag uitgereik waarin skokkende bewerings oor omstandighede by die hospitaal bekend gemaak is. Die kantoor is meer as ʼn jaar gelede genoop om ondersoek in te stel nadat ʼn lid van die parlementêre gesondheidsportefeuljekomitee ʼn klag ingedien het oor die versorging van verwagtende moeders by die hospitaal.

Die verslag het bevind dat die hospitaal ʼn vuil en onveilige plek is, met te min en verouderde hulpbronne en ʼn tekort aan personeel.

Michele Clark, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê die party gaan nou aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, skryf om spesifieke tydsraamwerke vir die inwerkingstelling van aanbevelings te versoek.

Dr. Tim de Maayer, ʼn spesialis by RMMCH, sê die verhouding tussen die hospitaal se personeel en bestuur het sedertdien verbeter, maar ander probleme wat hy en die ombud benadruk het, duur voort.

“Tensy hierdie probleme dringend aandag kry, gaan personeelmoraal laag bly. Dit het ʼn uitwerking op personeel se geestesgesondheid asook op die gesondheid van pasiënte,” sê Clarke.

Die DA sal die hospitaal ook besoek om te bepaal watter, indien enige, vordering met die inwerkingstelling van die ombud se aanbevelings gemaak is.

“Dit is die tweede ondersoek by die hospitaal wat die Gautengse departement van gesondheid se omvattende versuim om die provinsie se gesondheidsektor te bestuur, in stand te hou en te ontwikkel blootlê en is tot nadeel van pasiënte en gesondheidsorgwerkers,” sê Clarke.

Sy sê die voortgesette verval is ʼn aanklag teen die ANC-regering en ʼn ysingwekkende voorskou van wat by elke openbare gesondheidsinstelling in die land gaan gebeur as die Nasionale Gesondheidsversekering deur die parlement gestoomroller word.

Phaahla het ná die bekendstelling van die verslag gesê sy departement sal dit eers in detail moet bestudeer voordat hy omvattend sal kan reageer op die kwessies wat in die verslag geïdentifiseer is.

Die nasionale departement van gesondheid sal wel solank met die provinsiale departement in gesprek tree om die nodige finansiering vir die opknapping van die hospitaal te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.