Teazers-baas se moordverdagte weer in hof

George Louca Dinsdag in die Kempton Park-landdroshof. Foto: Werner Beukes / SAPA

George Louca Dinsdag in die Kempton Park-landdroshof. Foto: Werner Beukes / SAPA

George Louca, die man wat verdink word van die moord op Lolly Jackson, voormalige eienaar van Teazers, gaan na verwagting Vrydag weer in die Kempton Park-landdroshof verskyn. Hy staar aanklagte van moord en geldwassery in die gesig.

Louca is op 9 Februarie na Suid-Afrika gebring nadat sy finale verlof om appèl teen sy uitlewering in die appèlhof van Ciprus van die hand gewys is. Louca het verskeie pogings aangewend om sy uitlewering te verhoed.

Louca het tydens sy eerste hofverskyning op 10 Februarie aan die hof gesê hy benodig tussen sewe en 14 dae om ʼn prokureur te vind. Staatsaanklaer JJ du Toit het tydens Louca se eerste hofverskyning gesê Louca, wat die alias George Smith gebruik het, is vermoedelik betrokke by vier kriminele sake by verskillende howe.

Hy het weer op 18 Februarie in die hof verskyn, waar die saak tot vandag uitgestel is.

Louca het uit Suid-Afrika gevlug nadat Jackson op 3 Mei 2010 by sy huis in Edenglen aan die Oos-Rand vermoor is. Die Valke was sedertdien op sy spoor in verband met die moord. Hy het glo kort na die moord vir Joey Mabasa, hoof van misdaadintelligensie in Gauteng, gebel en daaroor gebieg.

Lees ook:
Teazers-moord: George Louca kry geldsake in plek
Teazers-baas se moordverdagte weer in hof
Teazers-baas se moordverdagte in hof
George Louca uitgelewer aan SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae