Telkom staak sy diens aan Emfuleni-munisipaliteit

Argieffoto: https://pixabay.com

Amptenare van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit is sedert Januarie genoodsaak om amptelike oproepe van hul privaat telefone te maak nadat Telkom weens wanbetaling sy diens aan dié munisipaliteit gestaak het.

Dié munisipaliteit, wat Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging bedien, se agterstallige skuld aan Telkom het sedert einde Januarie tot sowat R1 miljoen toegeneem.

Gerda Senekal, ʼn VF Plus-raadslid by die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit, sê die munisipaliteit se onvermoë om sy telefoonstelsel suksesvol te bestuur het reeds in 2017 begin met die installering van ’n stelsel deur die Brilliant Telecommunications-maatskappy.

“Die ouditeur-generaal het in sy 2017-’18-verslag ’n bedrag van R862 miljoen as onreëlmatige besteding aangedui waarvan die telefoonstelsel deel was. Die kontrak met Brilliant Telecommunications is in 2019 gekanselleer en die munisipaliteit het besluit om eerder van Telkom gebruik te maak,” sê Senekal.

Ondanks die feit dat die kontrak met Brilliant Telecommunications gestaak is en die maatskappy tot op hede nog nie sy stelsel verwyder het nie, betaal die Emfuleni-munisipaliteit die maatskappy steeds R290 000 per maand vir die gebruik van die stelsel. Telkom se maandelikse rekening aan die munisipaliteit beloop sowat R244 000.

Die VF Plus het verlede Donderdag tydens ’n vergadering met die finansiële bestuurder, Andile Dyakala, daarop aangedring dat die maandelikse fooi aan Brilliant Telecommunications dadelik gestaak moet word en dat dié maatskappy skriftelik versoek word om die stelsel te verwyder. Die party stel voor dat die geld aangewend kan word om hul Telkom-skuld te betaal.

Senekal sê die onvermoë van die Emfuleni-munisipaliteit om te sorg dat noodsaaklike dienste soos Telkom betaal word, het deur die jare na ander diensleweringsprobleme uitgebrei.

“Die VF Plus sal nie die druk verslap totdat alle bande met Brilliant Telecommunications verbreek is en agterstallige geld aan Telkom betaal is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Wat ek glad nie kan verstaan nie is dat sodra hulle een maand agterstallig is, hiekom is daar nie toe al opgetree nie? Toe ek nog gewerk het, is daar register gehou van alle oproepe per uitbreiding. Einde van die maand is dit vergelyk met rekening. Elkeen het dan vir sy privaat oproepe betaal. Geen probleme. Daar was toe ook nog nie selfone nie. Eerlikheid was die woord. En dit was by ‘n staatsinstelling. Maar nou dink staatsamptenare die potgoud kan nie opdroog nie, hulle kan soveel as moontlik verniet kry want dit kom hulle toe. Maar hulle wil buitensporige salarisse hê. Maar ek neem die finansies afdeling kwalik. Moes die eerste maand al iets gedoen het. Maar nou ja.

Sarel ·

As sulke dinge ooglopend. Plaasvind wat mazk die Opposissie daar?

Wielspore ·

Werkgewer se telefoon, onproduktiewe werkers bied die regte geleentheid om vriende en familie te bel en lang gesprekke te voer.

Casper ·

Ja Wielspore ek het dit self ervaar toe ek nog gewerk het.Hulle bel privaat en die publiek moet maar wag en dit by die toonbank.Ons het elke een ‘n kode gehad dan gaan hulle na ‘n ander kantoor toe en praat tot ‘n uur op die foon.

kallie ·

EN NOU MOET ONS NOG BETAAL VIR LUG IN WATERPYPE OOK, WAT ‘N GEMORS IS DIE ADMINISTRASIE VAN HIERDIE MUNISIPALITEIT NIE, EN SO LYK TALLEE REGERINF ENTITEITE SE SAKE OOK, S.A.L ,DENEL, DIT IS TRAGIES

Jakes ·

Gaan al die oproepe na wat al gemaak is en kyk hoeveel is gemaak na KFC , Steers en McDonalds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.