Temba kolf met woema!

Temba Bavuma het 109 lopies vir die Proteas geslaan. Foto: Twitter.

Vrydagaand het die Proteas vir almal gewys hoe om ʼn telling suksesvol te verdedig. Vandag was hulle vir ʼn lopiejaagtog-meesterles verantwoordelik.

Die Suid-Afrikaners het die tweede eendagwedstryd teen Engeland in Bloemfontein met vyf paaltjies gewen nadat hulle 343 lopies vir ʼn oorwinning moes aanteken. Hulle het sommer terselfdertyd die reeks met nog een wedstryd oor beklink.

David Miller het die kragmeting met ʼn reuse-ses oor die bouler se kop vir sy span gewen, maar dit was Temba Bavuma wat die wiele aan die rol vir die Proteas gesit het.

Die beleërde Suid-Afrikaanse krieketkaptein – wat kwalik ʼn lopie by ʼn kettingwinkel by die afgelope T20-Wêreldbeker in Australië kon koop – het vandag 109 lopies vanaf slegs 102 aflewerings gemoker.

Sy beurt het 15 grenshoue ingesluit en hy het ongetwyfeld die grondslag vir die Suid-Afrikaners se uitstekende lopiejaagtog gelê.

Aiden Markram (49 lopies), Rassie van der Dussen (38 lopies) en Heinrich Klaasen (27 lopies) het daarna almal waardevolle bydraes met die kolf gemaak, voordat Miller (58* lopies) en Marco Jansen (32* lopies) die wa deur die drif vir die tuisspan getrek het.

Dit is nog baie vroeg in die afrigtersera van Shukri Conrad en Rob Walter, maar dit lyk of die Proteas nie sommer meer in die drukkoker-situasies hênsop nie.

Vroeër het Engeland se Jos Buttler – wat ook vir die Paarl Royals in die SA20-toernooi speel – met die kolf uitgeblink.

Hy het 94 vinnige lopies aangeteken en saam met die opwindende Harry Brook die Protea-boulers onder druk geplaas.

Dit was egter die Engelsmanne se vyfde eendagkrieket-nederlaag op ʼn streep.

  • Opsomming van telkaart:

Engeland 342/7 in 50 boulbeurte: Jos Buttler 94*, Harry Brook en Anrich Nortjé 2/64.

Suid-Afrika 347/5 in 49,1 boulbeurte: Temba Bavuma 109, David Miller 58* en Olly Stone 2/48.

  • Die derde en laaste wedstryd van die reeks word Woensdag in Kimberley beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Aggie ·

Hy het beslis ‘n deurslaggewende aandeel aan ons wen gehad!

Nie Verbaas ·

Kom ons kyk maar eers of die huidige prestasie volhoubaar is voor ons op en af begin spring.

piet ·

Hy het ook 36 in die eerste ODI gekry. Waardevolle speler en kaptein. Tans een van die beter kolwers in ‘n middelmatige kolfspan.

George ·

Bavuma was nooit n probleem in ODI of Toets krieket nie, T20 is n ander storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.