Tentdorp afgebreek in Groenpunt

Muriel Baard red wat sy kan ná ‘n brand uitbreek (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Matthew Hirsch/GroundUp

Die hawelose gemeenskap naby die Groenpunt-tennisbaan, wat ook as Tent City bekendstaan, is Donderdag deur die balju van die hooggeregshof van die perseel afgesit.

GroundUp het Dinsdag berig dat die gemeenskap al weke lank deur afsetting in die gesig gestaar is. Verskeie persone het gekies om vrywillig te skuif, maar talle was nie tevrede met die verskuiwingsaanbod nie en het besluit om te bly.

Toe GroundUp by die toneel opgedaag het, het sommige mense buite die kamp gesit met al hul besittings. Sommige het hul eiendom in bokse en tasse gepak.

Teen omstreeks 09:30 het ʼn man met ʼn megafoon, vergesel deur wetstoepassers en polisiebeamptes, opgedaag en gesê: “Almal moet uit. Ons gaan die strukture vernietig.”

Te midde van die daaropvolgende chaos is ʼn vrou se handsak glo buite die perseel deur ʼn verbyganger gesteel. ʼn Brand het in een van die tente ontstaan wat vinnig deur beamptes geblus is, maar daar was mense wat hul eiendom verloor het.

Die mense met wie GroundUp gesels het, het gesê hulle weet nie waar hulle nou gaan slaap nie. “Die stad het vir ons belowe dat hulle vir ons plek sal gee, maar nou ontruim hulle ons net sonder om vir ons plek te gee,” het Muriel Baard, wat buite die tennisbaan met haar eiendom gesit het, aan GroundUp gesê. Sy was veral bekommerd dat haar Sassa-dokumente of ID-dokument gesteel gaan word.

Sy het aan GroundUp gesê sy is haweloos omdat daar probleme by die huis is.

GroundUp het Dinsdag berig oor Lourensa Manuel en haar hond, Selah. Hulle is na die stad se Safe Space geskuif, maar hulle kon nie daar bly nie, want die skuiling aanvaar nie honde nie en sy wou nie van Selah ontslae raak nie. “Ek is baie gespanne. Ek weet nie wat ek gaan doen nie. Ek het alles in die proses verloor.”

Nicola Jowell, DA-wyksraadslid, het aan GroundUP gesê die ontruiming het op ʼn ordelike wyse plaasgevind. Sy het gesê die balju was verskeie kere op die perseel om die mense in kennis te stel.

“Baie van die inwoners het reeds die perseel verlaat. Die stadsraad bly op die toneel om al die puin, rommel en boumateriaal te verwyder. Maatskaplike ontwikkeling was ook op die perseel,” het Jowell bygevoeg.

“Dit was ʼn baie lang proses van gesprekke. Dit is jammer dat dit nou op ʼn punt gekom het waar mense afgesit moes word. Ons het alles in ons vermoë gedoen om die mense by te staan en van die straat af te kry. Ons hoop dat dié aanbiedings, as dit nie reeds aanvaar is nie, nou aanvaar sal word.”

Twee jaar lange regsproses

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het in ʼn verklaring gesê die afsetting by die Bill Peters Tent City volg ná ʼn twee jaar lange regsproses.

Tydens hierdie periode het die polisie se eenheid vir ontheemdes en beamptes van maatskaplike ontwikkeling met die onwettige besetters op verskeie geleenthede in gesprek getree om vir hulle alternatiewe behuising aan te bied.

“Hierdie aanbiedings van alternatiewe behuising duur voort. Die stadsraad is daartoe verbind om openbare ruimtes reg oor die metropool op te ruim. Ons verhoog ons voetspoor vir veilige ruimtes en voeg bykomende hulpbronne by vir ons eenheid vir ontheemdes binne wetstoepassing,” het Smith gesê.

Die publiek word gemaan om 021 480 7700 te skakel om enige poging, om openbare ruimtes te beset, aan te meld.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Een ding kan ons darem van ons regslui sê en dit is dat hul selfs vinniger as knap is… Een moord is nou al ‘n voortstuwende soapy al word duisende moorde per jaar gepleeg. So ‘n avontuurlike land dié.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.