Terugslag vir NVG in Regiments-ondersoek

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Die hooggeregshof in Johannesburg het ʼn tydelike bewaringsbevel ten bedrae van R1,1 miljard wat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) vroeër teen Regiments Capital bekom het, omgekeer. Regiments het nou bande met die omstrede Gupta-familie.

Die bevel is in November verlede jaar toegestaan.

Die beslissing word bestempel as ʼn terugslag vir adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekdirektoraat by die NVG, en die uitspraak word bestudeer vir moontlike appèl daarteen.

Cronje, namens die NVG, het die hof gevra dat op die keerdatum van die bevel – Maandag – die bevel nie net gehandhaaf word nie, maar ook dat die bedrag betrokke verhoog word.

Die bevel hou verband met bewerings van bedrog, korrupsie en geldwassery teen Regiments toe hy as transaksieraadgewer vir Transnet opgetree het en ʼn beleggingsdiens vir Transnet se tweede vastevoordeelfonds gelewer het.

Regiments het glo sowat R1 miljard danksy onregmatige kontrakte van die staatsinstelling bekom.

Cronje voer aan dit was “deel van die staatskapingsprojek wat gemik is op die verryking van die beskuldigdes, die Gupta-familie en hulle meelopers”.

Regiments is in September vanjaar finaal in likwidasie geplaas en voer aan sou hy aangekla word, hy nie skuldig bevind sou word nie en ʼn beslagleggingsbevel ook nie teen hom toegestaan sou word nie.

Die maatskappy het Cronje se aansoek teengestaan, onder meer omdat sy volgens Regiments versuim het om verskeie feite onder die hof se aandag te bring. Dit sluit in ʼn ooreenkoms wat enkele dae gelede bereik is waarvolgens Regiments R180 miljoen aan Transnet sal betaal, asook R639 miljoen aan sy voorsorgfonds.

Die kontrakte wat die owerhede ondersoek, hou onder meer verband met die hoogs omstrede aankoop van lokomotiewe.

Regter Maletsatsi Mahalelo het Cronje se redes aanvaar oor waarom die aanvanklike aansoek eensydig ingedien is en sê indien dit nié gedoen is nie, Regiments dalk nie so geredelik tot ʼn skikking sou instem nie.

Die regter het Cronje gekap omdat sy versuim het om die hof oor verskeie kwessies in te lig, onder meer oor die vroeëre toestaan van ʼn ander bevel teen Regiments.

Hoewel Regiments dit as ʼn teenverkwistingsbevel bestempel het, betwis Cronje die argument dat dit die maatskappy se bates beperk. Die feit dat die aansoek vir die bevel op ʼn ex parte-grondslag ingedien is, beteken Regiments is nie vooraf ingelig nie.

Heelwat teenkanting teen die bevel het berus op of Cronje behoorlik opgetree het wat betref die inligting wat sy aan die hof bekend gemaak het.

Mahalelo het beslis dat Cronje die hof oor die bevel moes inlig en dit was “onverdedigbaar” om dit nie te doen nie.

Sy het ook ʼn kostebevel teen die nasionale direkteur van openbare vervolging toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FM ·

Dit is net één van die talle departement wat Jan Publiek miljarde skuld.

Indien dit verhaal kán word is Suid-Afrika nie meer rommel status nie

Besef ons dit

Suzette ·

Die Zuptas gaan niks oorkom nie…. hulle is net te uitgeslape.

Pampoen ·

Daar gaan niks van al hierdie hofsake en kommissies kom nie. Dis als net oeverblindery om dit onder die mat ingevee te kry.

Hennie J ·

Is dit n nuwe Regter op die bank. Nog nooit van haar gehoor nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.