Thabo Bester: Groot beloning uitgereik

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

ʼn Beloning van R100 000 is uitgereik vir enige inligting wat sal lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van die sogenaamde Facebook-verkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester.

Die beloning is deur die private veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT uitgereik. Dit is die jongste verwikkeling in die saak wat wêreldwyd aandag trek.

ʼn Tydelike bestuurder is Donderdag vir die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein aangestel waaruit Bester ontsnap het. Die aanvanklike bestuurder was verbonde aan die veiligheidsmaatskappy G4S. Die tydelike bestuurder is Patrick Ali Mashabathakga.

Ondersoekers het tot die gevolgtrekking gekom dat Bester se ontsnapping “goed beplan en georganiseer was”.

ʼn Private voertuig het op die dag van Bester se beweerde dood en uiteindelike ontsnapping sonder ʼn geldige toegangspermit by die gevangenis se hek ingegaan. Ondersoekers vermoed dat die voertuig die liggaam vervoer het wat later in Bester se sel verkool het.

Foto van ‘n persoon wie mense glo Thabo Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter, is. (Foto: GroudUp/Verskaf)

Die uitslag van die DNS-ontleding van die verkoolde liggaam het reeds bevestig dat dit nie Bester se oorskot is nie. Daar is glo ook met die gevangenis se kringtelevisie gepeuter.

Drie amptenare, onder wie die direkteur van kontrakbestuur by die departement se hoofkantoor, en twee ander bewaarders is reeds geskors vir hul beweerde betrokkenheid by die saak.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, het vroeër opdrag gegee dat die ondersoek na Bester voorkeur geniet en gedoen word in belang van geregtigheid vir die slagoffers, oorlewendes en die geraakte gesinne.

ʼn Moordsaak word ook ondersoek in verband met die liggaam wat in die sel gevind is waar Bester aangehou is en uit ontsnap het nadat die uitslag van die DNS-ontleding bevestig het dit is nie die liggaam van Bester nie.

Die lykskouingsverslag het verder aan die lig gebring dat die oorledene dood is weens houe met ʼn stomp voorwerp teen die kop. Die persoon was reeds dood voor die beweerde brandstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pablo ·

Sal nooit gevang word nie. Hierdie mooi land
Van ons het in n asblik verander. Dis net moord en diefstal en korrupsie.

Perdeby ·

Ek persoonlik dink hy is uit die land nou, want hy weet hulle soek hom nou.

Eugene ·

En hoe lank vat dit julle om agter te kom die man is weg????????shame seker te besig om te plunder en aan nog planne te dink!

miche ·

Maar hoe werk dit dan nou? Daar is onlangs op verskeie nuuswerwe berig dat die einste Nasionale Polisiehoof
Gnl. Fannie M.nie eens ‘n polisieklaring het nie.
Moet ons nou glo wat hy/ hul sê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.