Thabo Bester-ontsnapping: Borgtog vir tronkbewaarder

Thabang Mier en sy prokureur, adv. Themba Diba (links) by die Bloemfonteinse landdroshof (3 Julie 2023) (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Een van die drie voormalige tronkbewaarders in die Thabo Bester-ontsnappingsage is Maandag vrygelaat op borgtog.

“Thabang Mier is vrygelaat op borgtog,” sê Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag. “Hy staan tereg op aanklag van ʼn skedule 1-oortreding, om ʼn gevangene te help om te ontsnap. Die staat het dus nie sy borgtog teengestaan nie. Hy is vrygelaat met voorwaardes.”

Mier moes sy paspoort oorhandig en sal een keer per week by ʼn plaaslike polisiestasie moet aanmeld.

Die drie mans is verlede week Maandag in hegtenis geneem. Een verdagte is by sy huis in Botshabelo in hegtenis geneem en twee is aangekeer by hul huise in Bloemfontein. Al drie is vroeër vanjaar deur G4S geskors.

Die twee ander persone wat saam met Mier in die hof verskyn het, Joel Makheta en Moeketsie Ramolula, sal op 11 Julie 2023 weer in die hof verskyn vir hul formele aansoek om borgtog. “Hulle staan tereg op aanklag van skedule 5-oortredings. Die staat staan hul aansoeke om borgtog teen.”

Maroela Media het vroeër berig altesaam 12 persone is reeds in hegtenis geneem in verband met die voorval. Al twaalf beskuldigdes sal na verwagting op 8 Augustus saam in die hof verskyn.

Die meeste van die beskuldigdes was werknemers van die G4S- private veiligheidsmaatskappy toe Bester sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein verdwyn het.

ʼn Verbrande liggaam is in Mei verlede jaar in sel 35 aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het. Die liggaam is intussen geïdentifiseer as dié van Katlego Bereng Mpholo.

Bester, wat die Facebook-verkragter gedoop is, is in 2012 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy slagoffers op dié sosialemediaplatform gelok en hulle dan verkrag en beroof het. Hy het minstens een van sy slagoffers vermoor.

Diegene wat tans vervolg word vir hul beweerde betrokkenheid by Bester se ontsnapping sluit in Bester se vriendin dr. Nandipha Magudumana; haar pa, Zolile Sekeleni; voormalige werknemers van die Mangaung-gevangenis, Senohe Matsoara, Monteyani Masukela, Tieho Makhotsa en Nastassja Jansen; en Teboho Lipholo, ʼn voormalige werknemer van die kringtelevisiediensverskaffer Integriton Security Solutions, en Zanda Moyo, ʼn Zimbabwiër.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Al moet hy elke uur aanmeld sal mense met die netwerk wat Bester het vinnig en maklik landuit kan vlug. Sien op TV nuus dat die ouens nie regtig bekommerd is nie want dit is glimlagte net waar jy kyk. Arrogant verby

SjN ·

Borgtog op grond van wat, Bester het dan bewys dat jy landuit kan gaan sonder dokumentasie??

Amelia ·

Hierdie mense sou hom nie verniet gehelp het nie dink hul is betaal maar waar kom al die geld vandaan

Delia ·

Hoe het Bestet sonder n ID dokument so baie besigheid gedoen en so ryk geraak dat hy al die mense kon omkoop. Niks mask sin hier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.