Thabo Mbeki kap ANC oor Phala Phala, Eskom

Oudpres. Thabo Mbeki. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Oudpres. Thabo Mbeki het in ʼn sterk bewoorde brief aan die ANC nie doekies omgedraai oor die foute wat die regerende party spesifiek met betrekking tot die Phala Phala-sage en Eskom gemaak het nie.

Mbeki het in ʼn brief van 17 bladsye aan adj.pres. Paul Mashatile en die res van die ANC se topsewe, kaalvuis onder lede van sy party ingeklim oor hul besluite rakende Phala Phala en Eskom.

Die oudpresident sê dit is algemene kennis dat die ANC oor die afgelope twee dekades groot steun verloor het, asook die vertroue van baie van sy lede.

“Wanneer die massas van ons mense uiteindelik vertroue in die ANC as hul eie organisasie en betroubare diensleier verloor, sal ons beweging tot niet gaan en ophou bestaan – presies die uitkoms wat die teenrevolusie vir baie dekades en tot op hede, nagestreef het.”

Mbeki meen die ANC moet as ʼn saak van dringendheid verseker dat hy nie voortgaan om die ernstige foute te herhaal wat bygedra het tot die verlies aan steun vir die party nie.

Dié foute sluit die Nkandla-skandaal in, sowel as meer onlangse aangeleenthede naamlik die Phala Phala-sage en Eskom.

“Afgesien van en bykomend tot alles, dryf opeenvolgende ernstige foute van hierdie aard die grootste meerderheid mense onvermydelik van die ANC af weg, wat tot sy dood sal lei,” het Mbeki gewaarsku.

Phala Phala

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Oor die Phala Phala-sage sê Mbeki dit is al nege maande sedert die bewerings aan die lig gekom het, maar tog is geen vrae daaroor in die openbare domein al beantwoord nie. Hy meen die onlangse bevestiging deur die Inkomstediens dat die $580 000 (sowat R10,5 miljoen) wat glo op pres. Cyril Ramaphosa se plaas versteek is, nie verklaar is toe dit die land binnegekom het nie, verdiep die raaisel oor wat presies op Phala Phala gebeur het.

“In hierdie opsig verskil dit geensins van die Nkandla-saak waar daar korrupte praktyke vermoed is nie. Ongetwyfeld het die verkeerde standpunte wat ons oor die Nkandla-aangeleentheid ingeneem het, ʼn negatiewe impak op die stand van die ANC gehad onder die grootste meerderheid van ons mense.

“Dit is ook ongetwyfeld dat enige verkeerde standpunt wat ons inneem ten opsigte van die Phala Phala-aangeleentheid ook in gelyke mate of selfs ʼn meer negatiewe uitwerking op die stand van die ANC onder ons mense sal hê.”

Mbeki het die ANC gekap oor sy besluit om nie ʼn parlementêre komitee aan te stel oor Phala Phala nie. Hy meen daar moes so ʼn komitee wees om te bepaal of daar wel ʼn saak is waarop Ramaphosa moet antwoord.

“Hoekom het ons dan gekeer dat ʼn komitee gestig word wat ons glo juis sou vasstel dat ons president niks verkeerds gedoen het nie? Of sê ons dat ons vermoed of weet dat hy iets onaanvaarbaar gedoen het en daarom besluit het dat ons ons president ten alle koste moet beskerm deur te verseker dat die komitee nie op die been gebring word nie?

“Die manier waarop ons gestem het om die stigting van die komitee te keer, het die ondubbelsinnige stelling gekommunikeer dat ons nie wil hê dat die parlement ʼn dieper en omvattende begrip van die Phala Phala-aangeleentheid moet soek en kry nie.

“Met ander woorde, ons het opgetree soos ons gedoen het want daar is iets om weg te steek!”

Eskom

(Argieffoto: GCIS)

Mbeki het dieselfde harde woorde gehad vir die ANC rakende die bewerings van grootskaalse korrupsie, sabotasie en die bestaan van misdaadkartelle by Eskom.

Hy het die ANC gelooi oor die party teen die aanstelling van ʼn parlementêre komitee gestem het om dié bewerings te ondersoek. Daar is sterk aanduidings dat daar ʼn teenrevolusionêre mag skuil agter die probleme by Eskom wat radikaal gewerk het om die maatskappy te verswak, meen Mbeki.

“Dit was baie verkeerd om teen so komitee te stem aangesien dit die begin sou beteken van ʼn proses om die teenrevolusie te ontmasker wat moontlik verantwoordelik is vir die vele probleme by Eskom.

“Die publiek sal in elk geval verwag dat ons regering onmiddellik sal optree om ernstige bewerings van misdadigheid te ondersoek wat daarop gemik is om staatsinstellings te verswak. Dit sal vir mense baie vreemd en ontstellend oorgekom het dat, toe ʼn voorstel gemaak is dat die parlement so ʼn gefokusde ondersoek na die beweerde misdaad by Eskom moet onderneem, ons dadelik teen ʼn uiters korrekte voorstel gestem het.”

Mbeki meen hierdie stap het die reeds bestaande kloof tussen die ANC en die mense vergroot aangesien die publiek gesien het dat die ANC weier om die beweerde misdadigheid te ondersoek wat daartoe gelei het dat die mense al vir lank onder vernietigende beurtkrag gebuk gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Heinrich ·

Maar nog steeds sal hy en duisende ander steeds sy kruisie daar gaan trek volgende jaar, ten spyte van die chaos wat ten hemele skreeu.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mbeki, die ANC sal eendag tot ‘n einde kom, nes die NP/NNP.

Vettiemaragartos ·

100% van die kabinetslede hoor die klokke lui maar het nie ‘n idee waar die lel hang nie!!!!!! Is net daar vir die pay!

Amelia ·

my vraag is ook waar kom geld van phala phala vandaan geen mens koop buffels of wat ook al en betaal en los dit maar daar vir jaren ie nee dit glo ek glad nie en snaaks dit val ook saam met die korupsie by eskom selfde tyd vlak

Amelia ·

Waar is bewys dat daar tax op betaal is hoe het so baie geld deur doane gekom mag mos net n sekere bedrag uit en in land bring of geld dit nie vir almal nie

Nie Verbaas ·

En Mbeki slaan die spyker op die kop. Daar moet egter nie partydige kommitees met integriteit aangestel word wat heeltemal buite die raamwerk van die regering optree en ondersoek instel.

marius ·

Daar sal niks verander nie . Diegene wat die oorsaak is van die algehele verval sal niks oorkom en ook nie ophou met die verwoesting wat hulle saai nie.

Wondermaarnet ·

Wat help ‘n brief maar jy en jou mense wat krepeer stem steeds vir die ANC.

Amelia ·

ja land in sy kanon dink maarterug van wanneer af het dit so begin gaan ???

Frank ·

Glo Mbeki wraggies dat ‘n “derdemag” agter korrupsie by Eskom is en die blaam op ANC probeer plaas? Selfs ‘n idiot sal weet en besef dat NET die ANC die mag sowel as geleentheid het om dinge binne Eskom te manipuleer om korruptes te bevoordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.