‘The Voice SA’-mentor sterf

Riky Rick. (Foto: Facebook/The Voice SA)

Die The Voice SA-mentor en musikant, Riky Rick, het Woensdagoggend in Johannesburg gesterf. Hy was 34 jaar oud.

Volgens Sunday World het Rick, wie se regte naam Rikhado Muziwendlovu Makhado is, sy eie lewe geneem.

Rick het in 2019 saam met die sangers Francois van Coke, Riana Nel en Lira as mentor en beoordelaar van die derde seisoen van die gewilde talentsoekprogram, The Voice SA, op M-Net opgetree.

Hy het ook in 2019 saam met Van Coke die liedjie, “We are not like them”, uitgereik. Dié liedjie verskyn in Van Coke se soloalbum, Dagdrome in Suburbia.

Riky Rick saam met sy mede-mentor en vriend, Francois van Coke, op die stel van ‘The Voice SA’. (Foto: Facebook/The Voice SA)

Volgens News24 het ʼn woordvoerder van die familie, Sheikani Makhado, Rick se afsterwe bevestig. Nog ʼn familielid het gesê hy het gesterf op pad hospitaal toe.

Rick, wat getroud is met Bianca Naidoo, het sowat 2 miljoen volgelinge op Instagram en 1,5 miljoen volgelinge op Twitter.

Rick het Woensdagoggend op Twitter geskryf: “I’ll return a stronger man. This land is still my home.” Hy het ook op Valentynsdag ʼn video op Instagram gedeel waar hy en sy vrou liefderik met mekaar dans en het ook onlangs ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Sondela” saam met ʼn rits ander kunstenaars uitgereik.

“Riky het oor sy depressie gepraat en gesê hy vaar goed. Ons weet nie wat tot hierdie [gebeurtenis] aanleiding sou kon gee nie. Ons bid vir Bianca en die kinders,” het die familiewoordvoerder aan News24 gesê.

Riky Rick. (Foto: Facebook/The Voice SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Hierdie kom al ‘n tydjie. Ek is ‘n aanhanger. As ‘n mens mooi na sy liedjie “Home” se lirieke luister, kon mens hoor dit was ‘n kreet om hulp. Ongelukkig was dit net dit, ‘n liedjie so mens het nie aandag eintlik aan die lirieke gegee nie.

Casper ·

Ag dit is vreeslik jammer.Hy was werklik “neutraal” as dit gekom het by beoordeling..

Louise ·

Dit is so hartseer, want hy sal ‘n legend bly. Sterkte aan die familie en vriende dit is ‘n groot verlies.

Windhond ·

Nie n aanhanger nie – klets-rym nie my koppie tee nie, maar dis hartseer as n mens so bedruk voel dat jy n einde maak aan n lewe wat God jou geskenk het

Benn ·

Depressie is ‘n vreeslike siekte. Eks so jammer. Baie sterkte aan sy geliefdes.

Elmarie ·

Ongelooflike hartseer gebeurtenis. Stukkende familie wat agter gelaat word. ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.