Tien vas ná geweld op N12 by Potch

Betogers drom by Ikageng, naby Potchefstroom in Noordwes, saam. (Foto: SA Polisie)

Tien mense is ná die afgelope week se gewelddadige betogings in Potchefstroom en Ikageng in Noordwes vir openbare geweld en saakbeskadiging in hegtenis geneem.

Drie vroue en ses mans is gister vir openbare geweld in hegtenis geneem, het kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Gedeelte van die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp was Woensdag ure lank gesluit, nadat betogers vir ʼn derde agtereenvolgende dag die verkeer ontwrig het. Die pad is gisteraand weer oopgestel.

Betogers het gisteroggend omstreeks 05:00 al begin om die N12 onwettig te versper.

Gedurende die optrede het betogers die polisie en motoriste met klippe bestook en die vrag van ʼn vragmotor afgesteel, het Myburgh gesê.

ʼn Graafmasjien is boonop Dinsdag gebruik om stukke van ʼn pad in Ikageng op te breek. ʼn Saak van opsetlike saakbeskadiging is aanhangig gemaak en ʼn 36-jarige persoon is sedertdien in verband met dié voorval in hegtenis geneem.

Al tien verdagtes verskyn na verwagting môre in die landdroshof op Potchefstroom.

Die polisie handhaaf steeds ʼn sterk teenwoordigheid in die omgewing, het Myburgh gesê.

Lt.genl. Baile Motswenyane, polisiehoof in Noordwes, het die voorvalle van geweld en die beskadiging van kritieke infrastruktuur ten sterkste veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ne ·

More teer hulle weer die pad, maar vir slaggate is daar nie geld nie. Hoop daar word ‘n voorbeeld gemaak van die 10. Want as hulle nie gestraf word nie is dit ‘n goeie voorbeeld vir die res om op snelwee te betoog/roof/moor.

SjN ·

Laat hulle met pik en graaf die beskadigde pad herstel as deel van hul straf.

Annamarie Olivier ·

Ons land is buite beheer alles is ‘n gemors. Maak nie saak wat ons doen daar sal altyd nog iets wees om in opstand oor te kom.
As jy jonk genoeg is emigreer, ek en my man is ongelukkig te oud ons sal maar moet “adapt or die”

Zumie ·

Dalk moet die SAPD hierdie keer meer doen as om net die gebeure ten sterkste te veroordeel….

marous ·

Net 10 want die polisie is bang hul word beboet vir oorlaai .

Mariana ·

Die problem is net dat dieselfde mense more wees gaan vry wees om voort te gaan met die gemors. Is dit nie tyd dat daar ernstig opgetree word teenoor die mense nie. Hulle is nie gepla om in hegtenis geneem te word nie want hulle is vinnig weer vry.

Dirk ·

Dit is reg dat daar berig word dat 10 gearresteer is en in die hof gaan verskyn. Dit sal goed wees om met opvolgberigte ook ingelig te word oor die “wat daarna” soos bv wat die skade beloop, wie die skade betaal, die strawwe wat opgele word aan die oortreders ens. Jan publiek moet weet of vervolging enduit gevoer word, aldan nie. Die vermoede bestaan lank reeds dat sake van hierdie tipe oortredings te maklik uit die howe gegooi word, meestal aan n gebrek van bewyse of so iets dergliks!

Matts ·

Protes en protesoptrede het die dekmantel geword waaronder daar vernietig word, geroof, geplunder en aangerand word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.