Tien vas tydens taxi-oproer in Centurion

‘n Polisiehelikopter patrolleer die gebied in Kloofsig waar taxibestuurders en die polisie Maandag slaags geraak het. (Foto: Christel Cornelissen)

Die polisie het tien mense in hegtenis geneem en ʼn saak van openbare geweld word ondersoek nadat tientalle taxibestuurders Maandag die kruising van Botha- en Krugerlaan in Kloofsig in Centurion met brandende rommel versper het.

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die Lyttelton-polisie, het gesê ʼn polisielid wat met die taxibestuurders probeer onderhandel het, is aangeval. Hy is nie beseer nie.

Nadat die situasie onder beheer gebring is, het die taxibestuurders wéér oproerig geraak en klaarblyklik weer iemand probeer aanval.

Die polisie het hulle met skokgranate en rubberkoeëls uitmekaar gejaag, het Miller gesê.

Verskeie polisie-eenhede, waaronder die lugvleuel, lede van die Lyttelton-polisie, lede van die openbare orde-eenheid asook die Tshwane-metropolisie is op die toneel ontplooi.

ʼn Polisiehelikopter het ʼn geruime tyd laag oor die gebied gesirkel, terwyl taxibestuurders in die middel van die kruising in ʼn groep gehurk het.

Paaie rondom die kruising is gesluit en die verkeer is via alternatiewe roetes herlei.

“Die paaie is steeds gesluit en ons hoop om dit teen laatmiddag weer oop te stel,” het Miller gesê.

Miller het gesê die polisie sal ʼn sterk teenwoordigheid in die gebied handhaaf om te verseker dat die groep nie weer byeenkom nie.

Taxibestuurders is glo ontevrede oor voortslepende geweld in die bedryf wat volgens hulle nie die nodige aandag geniet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bert ·

Protesteer teen geweld met geweld????
Seker baie logies, maar ek verstaan dit nie.

Lolla ·

Ek ry die pad elke middag huis toe en hulle was al Donderdag en Vrydag doenig daar gewees. Gewonder wat daar aangaan, want daar is nooit taxi’s daar nie. Hulle het gedrink en gedans en al die ander taxi’s afgetrek. Nou weet ek om maar ‘n ander roete te neem.

Gert van Wierdapark ·

Hul doen mos net wat hul wil en kom gewoonlik weg daarmee! Baie tragies van hoe baie taxi-passasiers daagliks met hul lewens boet = soos gister by Midrand waar die drywer 10 passasiers gepad-dood het!! Lyk my hul politieke invloed strek wyer as die kajuit van die taxi?

Pieter ·

Dit sal baie gaaf wees wanneer die polisie weer eendag onthou dat ‘n waterkanon baie vinnig die plek skoonmaak van gemors en vandalistiese betogers.

Pieter ·

Hoekom water mors waar is die polisie seker voor k.f.c hehe die land is een groot grap

Johan ·

Taxis, die grootste gemors op ons paaie! Doen absoluut net soos hulle lus kry. Gemors!

Bankrot ·

Ek is ook ontevrede dat my belasting so gemors word, maar ek beskadig nie ander mense se eiendom of verontrief hulle nie!

Umo ·

1) Kry insleep voertuig.
2) Haak Taxi.
3) Ry tot by naaste Scrap yard.
4) Crush Taxi.
5) Herhaal vanaf Punt (1).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.