Tiener eindelik in hof ná dodelike botsing

Jacky Jewell saam met haar pa, Patrick Jewell, twee weke voor die botsing (Foto verskaf)

’n Tiener wat byna drie jaar gelede sy pa se voertuig gesteel het vir ’n plesierrit saam met sy vriende, het op 21 September 2021 ’n botsing veroorsaak wat die lewe van Patrick Jewell (65) geëis het.

Kgaugelo Masenya (19) het Donderdag vir die eerste keer vlugtig in die Brits-landdroshof verskyn op ’n aanklag van strafbare manslag vir Jewell se dood.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Jewell se dogter, Jacky, in hierdie saak. Jacky het dié eenheid genader nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versuim het om die saak te ondersoek.

Masenya se pa is ’n kaptein by die SAPD se beskerming-en-sekuriteitseenheid en daar word vermoed dat die SAPD se versuim om hierdie saak te ondersoek te wyte is aan polisiebeamptes wat vir hul kollegas skerm. Masenya word ook daarvan aangekla dat hy ’n voertuig sonder ’n lisensie bestuur het – hy was 16 ten tyde van die voorval.

Op die noodlottige dag was Jewell op die sypaadjie buite sy huis besig om waterbottels in sy Hyundai i10 te laai om die blomme by sy vrou se graf te gaan natlei. Beeldmateriaal wys hoe ’n wit BMW X5 om ’n hoek jaag, beheer verloor en dan bots met Jewell se motor waar Jewell gestaan het. Jewell is na die hospitaal geneem waar hy 20 dae later aan sy beserings beswyk het.

Jacky het twee maande ná die botsing beeldmateriaal van die botsing bekom en die kontakbesonderhede van die persoon wat dit verskaf het aan die ondersoekbeampte gegee. Die ondersoekbeampte het ses maande later steeds nie opgevolg oor die beeldmateriaal nie. Voorts het die ondersoekbeampte eers ses weke ná die botsing verklarings van ooggetuies afgeneem.

Die privaatvervolgingseenheid het in Mei 2022 van die optrede van die ondersoekbeampte verneem en ’n formele klag teen die betrokke beampte by die provinsiale polisiekantoor geopen. Teen Julie 2022 is daar nog geen betekenisvolle terugvoer van die provinsiale kantoor ontvang nie wat die privaatvervolgingseenheid genoop het om by die SAPD se nasionale kantoor ’n klag te lê. Tóé eers is die saak behoorlik ondersoek.

Die dossier is uiteindelik in Mei verlede jaar aan die hof gestuur waarna daar besluit is om Masenya te vervolg.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat die saak nou nog sou sloer as die privaatvervolgingseenheid nie toegetree het nie. “Ons het male sonder tal te doen met sake waar ondersoekbeamptes versuim om hulle verpligtinge na te kom. Ons vermoed dat die pa van die beskuldigde se titel in hierdie saak die rede was dat die saak nie ondersoek is nie. Dit beledig die beginsel dat almal gelyk is voor die reg en dit mag nie geduld word nie. Dit was inderwaarheid die privaatvervolgingseenheid wat verseker het dat die SAPD die nodige bewyse versamel het en ’n dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig het.”

Jacky het haar dankbaarheid teenoor die privaatvervolgingseenheid uitgespreek. “Ek is baie bly, maar ek het gemengde gevoelens omdat ek nie weet wat om te verwag nie. Daar gebeur darem nou iets, die saak kan verhoor word en ons kan geregtigheid kry vir my pa se dood. AfriForum het my die hele pad bygestaan, hulle het die saak gedruk, meer inligting verkry en seker gemaak dat alles reg verloop. Ongelukkig kan ek nie dieselfde oor die polisie sê nie.”

Die saak is uitgestel tot 10 April 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Dankie Afriforum. Weereens moet julle betrek word sodat ons geregtigheid kan kry. Hoekom was ek nie verbaas toe ek sien wie was die oortreder nie?

Michael ·

Die is een van die redes hoekom misdaad en misdadigers in beheer is van Suid-Afrika.

Jay ·

Ja, ditto vir Afriforum! Dankie vir reuse werk!

Wonder by hoeveel sake wat net doodgeloop het of dossiere wat “weggeraak” het die betrokke policies offisier dalk ‘n invloed by gehad het!

Nogal ‘n duur voertuig wat die polisieman gehad het of straks nog ry……….vra maar net?

ES ·

Ek se dit altyd – die hoof rede dat sake virewig vat is swak polisie- en speurwerk wat die gevolg het dat die staat nie met ‘n saak kan begin nie – dan sloer hofsake ook nog vir jare a.g.v. ons swak regstelsel.

Nou gaan die mannetjie as ‘n volwasse vervolg word. Ons Skepper slaap nie.

Dries ·

Wat n skande, SAPD, om n kollega te beskerm. Is daar enige persoon wat nog die SAPD kan vertrou?

JohanR ·

Friends in the goverment, and friends in high places. Maak my dink aan die ou in Pretoria-Noord wat daai motor fiets ryers van voor af af gemaai het, en dit het lank soek en in ‘n hof in te kry gevat. Se al lank die SAPD moes in 1994 ontbundel gewweess het en dan moes elke polisieman weer vars aansoek gedoen het., Dit sou dan miskien ‘n beter SAPD gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.