ʼn Vrystaatse tiener is in hegtenis geneem nadat sy vir haar vriend wat uit aanhouding ontsnap het, beskerming teen die polisie help bied het.
Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het op 23 Julie ʼn wenk ontvang dat die verdagte wat ontsnap het hom glo in ʼn huis in Monyakeng in Wesselsbron bevind.
Die polisie is na die huis waar hulle die 17-jarige meisie aangetref het. Die meisie het glo aan die polisie gesê sy is alleen tuis.
Volgens Thakeng het beamptes die huis deursoek en die ontsnapte verdagte in die huis aangetref.
“Hy is aangekla van ontsnapping uit aanhouding en die meisie van dwarsboming van die gereg.”
Die ontsnapte verdagte moet op 11 Augustus in die hof verskyn. Daar is aanbeveel dat die tienermeisie ʼn afwentelingsprogram voltooi.