ʼn 15-jarige meisie het Saterdagaand naby Shelly Beach aan die KwaZulu-Natalse Suidkus verdrink.
Die Nasionale Seereddingsinstituut se span is om 18:20 ontplooi om die polisie en nooddienste by te staan ná berigte van ʼn verdrinking wat besig was om by St. Michael-strand, sowat 2 km van die reddingstasie, plaas te vind.
Jeremiah Jackson, stasiebevelvoerder, het gesê die meisie was in daardie stadium reeds uit die water gehaal en dat haar redders besig was met kardiopulmonêre resussitasie.
“Die tiener is egter ondanks dié pogings op die toneel dood verklaar,” het Jackson gesê.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.