Toekoms van DBV se Komani-tak in weegskaal

Die toekoms en voortbestaan van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Komani-tak in die Oos-Kaap hang in die weegskaal.

Die tak, ook bekend as die Queenstown-tak, het in Desember verlede jaar gewaarsku hy kan die einde van Januarie sy perseel kwyt wees.

Volgens die takbestuur het die Enoch Mgijima-munisipaliteit die DBV op 19 Desember in ʼn kennisgewing meegedeel dat hul huurkontrak verstryk en dat hulle dus teen 31 Januarie die perseel moet ontruim.

Dit het ʼn geskarrel vir die DBV afgegee omdat hulle inderhaas geskikte huise vir die sowat 50 honde en katte in hul sorg moes vind.

Ondanks verskeie pogings van Maroela Media het die munisipaliteit nie op navrae hieroor gereageer nie.

Die Komani-tak is ook genoop om regshulp in te win om duidelikheid oor die kontrak te kry.

Bianca Naudé, komiteelid van die DBV, het bevestig dat Mike Bolhuis se private ondersoekmaatskappy Specialised Security Services Maandag aangestel is om te help.

Bolhuis, self ʼn vurige kampvegter vir diereregte, het dadelik ondersoek ingestel. Hy het uitgewys dat die munisipaliteit se optrede onbillik is en dat die Komani-tak nie genoeg tyd gegun is om oor die kontrak te onderhandel nie.

Intussen het sake tussen die Komani-tak en sy hoofkantoor, die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV), versuur weens die kontrakdispuut.

Luidens ʼn verklaring van die NDBV op hul Facebook-blad het hul inspekteurs ingespring en die diere by Komani verwyder.

“Die NDBV is diep bekommerd oor die situasie wat by die Queenstown-DBV ontvou het en het ʼn span uitgestuur om ondersoek in te stel,” lui die verklaring.

NSPCA ON-SITE TO ASSIST IN DIRE QUEENSTOWN SPCA SITUATION The NSPCA is gravely concerned about the situation that was…

Posted by NSPCA – National Council of SPCAs on Tuesday, January 16, 2024

Die verklaring noem verder: “Met aankoms het dit duidelik geword dat die bestuurskomitee van die Queenstown-DBV eensydig en sonder om ʼn spesiale algemene vergadering met die gemeenskap te belê of die NDBV te raadpleeg, besluit het om die DBV te sluit.”

Daar is glo reeds met afleggingsprosesse begin.

Volgens die NDBV het die tak se bestuur hul nie gesteur aan die volhoubare welsyn van die diere nie en nie na behore met die munisipaliteit oor die huurkontrak gekommunikeer nie.

“Weens hul versuim om met die munisipaliteit te skakel het die NDBV self besprekings met die munisipaliteit begin. Hierdie besprekings sal in die week voort gaan,” lui die verklaring.

Volgens die NDVB het die Komani-tak “sy eie agenda gedryf” ondanks die helpende hand wat daar op 23 Desember na hulle uitgereik is.

“Hulle het voortgegaan om diere te plaas by derdeparty‑organisasies terwyl daar ander DBV-takke in hul streek was wat gereed was om te help.”

Bolhuis het Donderdag bevestig dat hy steeds die Komani-tak bystaan.

“Die rede hiervoor is dat die Queenstown-tak voel dit was onprofessioneel, voortydig en onnodig vir die NDBV om op te tree soos wat daar opgetree is. Hulle voel ook hul naam is deur die modder gesleep want die aantygings wat teen hulle gemaak is, is onwaar en ons tree nou namens hulle op.”

Hy sal voortgaan om met die onderskeie rolspelers te skakel. Volgens Bolhuis is daar nog vergaderings wat vir die week belê is sodat daar met oplossings vorendag gekom kan word.

“Die ongelukkige realiteit is dat die diere die slagoffers in hierdie dispuut is. Daar moet ook in ag geneem word dat alle komiteelede van die Queenstown-DBV vrywilligers is, en sonder enige diere om na om te sien staar hulle tak ʼn haglike situasie in die gesig … samewerking tussen die tak en die nasionale DBV is noodsaaklik,” sê Bolhuis.

Die Komani-DBV sien nie net om na hawelose diere nie, maar dien ook as ʼn plaaslike munisipale skut vir ander diere soos donkies en beeste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Olive ·

Waarom kan so baie onbenullige dinge finansiele bystand en toelaes kry maar waneer dit kom by diere is daar net niks. Dit is bitter hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.