Toelae, werk vir eie burgers: IVP maak groot beloftes

Velenkosini Hlabisa, leier van die IVP, tydens die bekendstelling van die party se manifes by die Moses Mabhida-stadion in Durban. (Foto: Rajesh Jantilal / AFP)

Met groot mag kom groot verantwoordelikheid… Maar hiervoor is die Inkatha Vryheidsparty (IVP) klaarblyklik nie bang nie. Velenkosini Hlabisa, leier van die IVP, maak boonop groot beloftes aan Suid-Afrikaners, sou dié party ná die algemene verkiesing op 29 Mei aan bewind kom.

Die party se manifes vir die komende verkiesing is Saterdag tydens ʼn skouspelagtige vertoning in die Moses Mabhida-stadion in Durban bekendgestel. Duisende mense was daar om die party te ondersteun en het aan Hlabisa se lippe gehang. Tradisionele leiers in Zoeloedrag was ook teenwoordig.

ʼn 13-puntplan word in dié manifes uiteengesit, wat die fokus van die party sal rig.

Sou die party koning kraai, onderneem Hlabisa onder meer om voorkeur aan landsburgers te gee wat werkgeleenthede betref, strenger grensbeheer toe te pas, die gesondheid- en onderrigsektor te verbeter en ʼn R3 000-toelaag aan gegradueerdes wat sukkel om ná hul studies werk te kry.

Hy sê die party is nie bang om beslissende, dapper uitsprake te maak oor wat reg is vir die land en sy burgers nie.

Suid-Afrikaners moet dus eerste in die ry wees vir werksgeleenthede, aldus Hlabisa.

“Liefdadigheid begin by die huis.

“In geen ander land sal jy sien dat buitelanders voorkeur bo landsburgers kry nie. Ons burgers moet die prioriteit wees,” het hy in ʼn onderhoud Saterdag met Newzroom Afrika gesê.

Daarmee saam sal strenger grensbeheer onder die IVP se leierskap toegepas word – en die party sal nie skroom om die weermag in groot getalle op die grens te ontplooi of selfs ʼn muur op te rig nie.

As deel van die party se doelwit om armoede en werkloosheid in die land te stuit, sal gegradueerdes ook geprioritiseer word – in besonder dié wat ná hul studies tuis sit omdat hulle nie werk kry nie.

Die IVP het onderneem om ʼn toelaag van R3 000 as ʼn interim maatreël aan werklose gegradueerdes te gee én hulle te help om werk te kry.

“My eie dogter is gegradueerd en sit sonder werk. Ek ken die frustrasie. Ek dink ons almal ken of weet van jong mense wat die kennis en vaardighede het, maar wat by die huis sit.

“Die regering bestee miljarde rande aan NSFAS-beurse vir studente, maar ná hul studies word hulle agterweë gelaat.”

Duisende IVP-ondersteuners het Saterdag by die Moses Mabhida-stadion in Durban byeengekom. (Foto: Rajesh Jantilal / AFP)

Op ʼn vraag deur Newzroom Afrika oor waar die regering die geld sal kry om ruim toelae soos dié uit te gee (en ook die ander doelwitte in die 13-puntplan) te bereik, het Hlabisa gesê Suid-Afrika het “meer as genoeg geld”.

Die probleem onder die huidige ANC-regering is dat dié geld weens korrupsie verdwyn of wanbestee word, aldus Hlabisa.

Hy onderneem egter dat die IFP hom tot die uitroei van korrupsie verbind, en sê dat die geld wat die regering ontvang vir die regte doeleindes aangewend sal word.

“Ons sal daardie geld gebruik om ons jeug vorentoe te neem.”

Hlabisa sê die party sal ook staatsposte besnoei en dat nie “elke departement ʼn adjunkminister nodig het nie”.

Dit sal uiteraard ook geld bespaar wat elders aangewend kan word.

Verandering dringend nodig

In ʼn lang toespraak het Hlabisa Saterdag gesê die land staan op die afgrond.

“Suid-Afrika staan ​​op die randjie van ineenstorting, nie weens enige gebrek by ons mense nie, maar omdat Suid-Afrika onderwerp is aan swak regering, swak leierskap en korrupsie,” het Hlabisa gesê.

“In 2024 is daar regoor Afrika een klinkende oproep: die oproep tot verandering.”

Die verkiesing op 29 Mei sal die eerste wees wat die party sonder sy ikoniese stigter en ontslape leier, Mangosuthu Buthulezi, aandurf.

Die party word ook ander nuwe uitdagings in die gesig gestaar, selfs in sy tuisprovinsie van KwaZulu-Natal. Vanjaar se verkiesingsveldtog is dus uiters belangrik vir die party.

In die algemene verkiesing van 2019 het die IFP nasionaal vierde gekom met 14 setels in die Nasionale Vergadering van 400 lede, met min stemme buite KwaZulu-Natal.

Die IVP is deel van die Veelpartyhandves, ʼn groep partye wat beoog om ʼn alliansie te vorm om die ANC te ontsetel as dié party se steun nasionaal tot laer as 50% daal.

Drie dekades nadat Suid-Afrika amptelik ʼn demokrasie geword het, kan die ANC se steun volgens kenners vanjaar aansienlik laer wees, met die moontlikheid dat die party nie weer die meerderheid stemme sal verower nie.

Dit beteken egter nie dat die werk van partye soos die IVP nou maklik gaan wees nie. Nie eens in KwaZulu-Natal waar die meeste van die party se ondersteuners is nie.

Oudpres. Jacob Zuma, wat onlangs uit die ANC geskors is, het sy steun aan die nuutgestigte party, uMkhonto weSizwe, toegesê. Hoe omstrede Zuma ook al is, die oudpresident het steeds geweldig baie steun in KwaZulu-Natal, wat stemme kan wegneem van die regerende ANC-party, maar ook die IVP.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Luckykat ·

Nie n fan van nog toelae nie maar ek hoop hulle vat klomp stemme by die huidige stelers af.

JohanR ·

Ek sal my X by die IVP as ek die dag na die verkiesing soos belowe is my nuwe BMW kan gaan uittrek. ‘n Spliternuwe BMW enige party sal my stem koop!

Casper ·

Mnr.Hlabisa en toe jy wakker word uit jou droom toe is jou koffie koud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.