Toelatingsvereistes vir onderwys net té maklik

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel behaal steeds powere uitslae, ten spyte van onderwysers wat beter as die meeste werkers in die formele sektor vergoed word, met navorsing wat wys dat laer toelatingsvereistes vir onderwysstudente dalk een van die redes hiervoor kan wees.

ʼn Studie deur die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid (Resep) by die Universiteit Stellenbosch (US) sê die antwoord vir swak onderwysuitkomste lê moontlik in die lae toelatingsvereistes om onderwys op tersiêre vlak te gaan studeer – en die feit dat onderwysstudente gemiddeld swakker matriekuitslae as hul eweknieë in ander graadprogramme behaal.

Dit blyk veral waar vir wiskunde te wees.

Resep-navorser Irene Pampallis het in die studie bevind onderwysstudente “presteer swak in wiskunde, veral in vergelyking met diegene wat vir ander graadprogramme inskryf”.

Data wys dat voornemende onderwysers wat vir ʼn BEd-graad inskryf, ʼn aangepaste gemiddeld van 41% vir matriekwiskunde behaal het, in vergelyking met die 54% wat ander graadstudies se studente behaal het, en die 36% wat studente in diploma- of sertifikaatprogramme vir matriekwiskunde behaal het. Dit is nou die mense wat Suid-Afrika se kinders moet toerus met behoorlike wiskundevaardighede. Data wys juis dat Suid-Afrikaanse leerders van die swakste wiskundepunte ter wêreld behaal.

Die studie het wiskundige geletterdheid-punte na die wiskunde-ekwivalent omgeskakel sodat alle matrieks op dieselfde skaal gemeet kon word.

Vir vakke benewens wiskunde is die neiging dieselfde – hoewel die verskil in punte kleiner is. Pampallis meen dit kan wees omdat diegene wat vir ʼn onderwysgraad inskryf, beter punte in vakke anders as wiskunde behaal.

Wiskundepunte

Unisa, die Universiteit van Zoeloeland, die Noordwes-Universiteit, die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) en die Universiteit van Pretoria (UP) lewer gesamentlik sowat die helfte van alle onderwysstudente in Suid-Afrika.

“Dit is duidelik dat hoewel voornemende onderwysers in die algemeen soortgelyke akademiese uitslae as ander graadkandidate het, hulle minder waarskynlik is om wiskunde (in teenstelling met wiskundige geletterdheid) te neem en hul wiskunde-uitslae is veel swakker,” sê Pampallis.

Sy sê dit is veral kommerwekkend dat by Unisa, wat veel meer onderwysers as enige ander universiteit oplei, slegs 10% van inkomende BEd-studente (tussen 2014 en 2016) wiskunde as vak geneem én dit met minstens 50% geslaag het.

Goeie wiskundige vaardighede is noodsaaklik vir onderwysers, maar die sektor gaan onwaarskynlik sterker wiskundiges na die onderwysberoep lok sonder dat die standaard van matriekuitslae in die geheel verbeter word, sê Pampallis.

“Wiskunde is noodsaaklik vir alle onderwysers in die grondslagfase, asook vir onderwysers wat wiskundige, kommersiële of wetenskaplike vakke in ander grade aanbied.”

Pampallis sê ook daar word van alle onderwysers verwag om minstens basiese wiskundevaardighede te hê om hul leerders te assesseer.

Hoewel BEd-studente uit die laer gedeelte van graadinskrywings by universiteite is, is hulle steeds van die toppresterende matriekkandidate wat universiteitstoelating betref. Byna tweederdes van studenteonderwysers wat matriekwiskunde geneem het, was in die boonste 25% van nasionale matriekpresteerders.

BEd-studente het ook hoër matriekpunte as studente wat diploma- en sertifikaatstudies doen, asook matrieks wat nie verder gaan swot nie.

Pampallis sê die bevindings dui op ʼn vlak poel van alternatiewe kandidate van hoë gehalte wat na onderwys gelok kan word, tensy studente wat voorheen ander studierigtings gevolg het, kies om na onderwys oor te skakel.

“Dit gaan moeilik wees om die akademiese kaliber van ons voornemende onderwysers te verbeter sonder om matriekuitslae in die algemeen te verbeter, of kandidate na onderwys te lok wat andersins nie onderwys as beroep sou kies nie.

“Intussen is dit belangrik dat universiteite die gapings in wiskundevaardighede en wiskundige vertroue as deel van onderwysersopleiding pak.”

‘Akademies swakker’ kandidate na onderwys

Die toelatingsvereiste vir BEd-grade is op die “laer end van die spektrum” wanneer dit met ander gewilde universiteitsgrade vergelyk word, veral vir wiskunde.

Die studie wys ook dat BEd een van die min grade is wat nie ʼn minimum vereiste vir wiskunde of wiskundige geletterdheid by verskeie van die universiteite stel nie, hoewel hierdie neiging gaandeweg besig is om te verander.

“Dit kan studente wat akademies swakker is, na onderwysprogramme stoot omdat hulle nie aan die toelatingsvereistes vir meer uitgesoekte programme voldoen nie,” sê Pampallis.

Paul Esterhuizen, uitvoerende hoof van die School-Days-inisiatief, sê die rimpeluitwerking van laer toelatingsvereistes is dat minder onderwysers gekwalifiseer is om strawwer akademiese vakke, soos wiskunde en wetenskap, aan te bied.

“ʼn Kritieke tekort aan opgeleide wiskunde- en wetenskaponderwysers is genoem as een van die bydraende oorsake vir die land se beroerde wiskunde- en wetenskapstandaarde,” sê hy.

“Volgens die departement van basiese onderwys is meer as die helfte van wiskunde- en wetenskapdepartementshoofde in sekondêre skole nie gekwalifiseer om gepaste steun aan onderwysers te gee nie omdat nie een van die vakke hul hoofvakke was nie.

“Gegrond op die studie wat die departement in 2018 gedoen het, het net 43,3% van wiskunde- en wetenskapdepartementshoofde die nodige kwalifikasies. Die situasie word vererger deur wiskunde- en wetenskaponderwysers wat dit nie op hoër vlak as hoofvak gehad het nie.”

Navorsers waarsku ook dat, op ʼn basiese vlak, ʼn onderwyser nie iemand iets kan leer wat hulle self “nie weet nie”.

Vergoed ervare onderwysers

Esterhuizen meen as Suid-Afrika sy onderwysuitkomste wil verbeter, ook in wiskunde en wetenskap, moet hy hoër presterende onderwysers met meer as die bedryfsgemiddeld vergoed en beter voordele bied as ʼn manier om puik onderwysers te behou.

Hy sê tersiêre instellings moet ook strenger toelatingsvereistes begin stel en proaktief werk om kandidate met beter wiskunde- en wetenskappunte na die onderwysberoep te lok deur byvoorbeeld beurse aan te bied.

“Terselfdertyd moet hoër presterende onderwysers ondersteun word met geleenthede vir verdere loopbaangroei en ontwikkeling. Die strategieë is niks nuuts nie en is bekend aan die meeste hoëprestasieorganisasies.”

Esterhuizen sê Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan stel ʼn ambisieuse teiken vir onderwys wat bepaal dat 90% van alle leerders teen 2030 wiskunde, wetenskap en tale met minstens 50% slaag.

“Dit is onwaarskynlik dat hierdie doelwit ʼn werklikheid gaan word tensy die departement van basiese onderwysers met dapper en innoverende planne buite die boks begin dink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.