Toename in dronkbestuur, ongelukke in Kaapstad

(Argieffoto: pixabay)

Kaapstad se wetstoepassers het die afgelope week 325 mense in hegtenis geneem en 57 854 boetes vir verskeie oortredings uitgereik.

“Daar is ʼn beduidende toename in die getal inhegtenisnemings vir dronkbestuur en motorvoertuigongelukke wat by die stad se nooddienssentrum aangemeld is,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

Kaapstad se verkeerspolisie het 69 motoriste in hegtenis geneem, waarvan 54 vir bestuur onder die invloed, in vergelyking met 33 die vorige week. Sewe persone is in hegtenis geneem vir roekelose of nalatige bestuur en agt persone vir verskeie ander oortredings.

Beamptes het 51 242 oortredings aangeteken. Altesaam 252 openbarevervoer-voertuie is geskut en 1 191 lasbriewe vir inhegtenisneming is uitgevoer.

“Die stad se nooddienssentrum het die naweek binne 48 uur altesaam 1 935 gevalle aangeteken. Dit sluit in 147 aanrandings, 48 gevalle van huishoudelike geweld, 64 motorvoertuigongelukke (47 die vorige naweek) en 15 ongelukke waarby voetgangers betrokke was.”

Smith sê dié statistieke is ongelukkig nie ʼn verrassing nie, omdat die algehele prentjie selfs nog erger is. “Nie alle gevalle word noodwendig deur dieselfde kanale aangemeld nie of hoegenaamd aangemeld nie. Die betalingsdag-naweek is ongelukkig al ʼn gevestigde verskynsel en dit benadruk weereens die verwoestende rol wat alkohol in ons samelewing speel. Met die maandeinde-naweek in sig en ʼn rits langnaweke om die draai wil ek graag opnuut motoriste en die publiek maan om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul optrede en om nie hul eie of iemand anders se lewe in gevaar te stel nie.”

Die stad se wetstoepassers het verlede week 219 persone in hegtenis geneem en 3 904 boetes uitgereik. Hul eweknieë in die metropolisie het 37 mense in hegtenis geneem en 2 708 verkeer- en ander boetes uitgereik.

Dwelmmiddels ter waarde van R16 000 is Sondag in Heideveld gevind ná ʼn wenk ontvang is oor dwelmmiddels op die perseel. Beamptes is toegelaat om die perseel te deursoek en het op 545 Mandraxtablette en R1 000 kontant afgekom. ʼn 28-jarige man is in hegtenis geneem en word by Manenberg-polisie aangehou.

Beamptes van die metropolisie het Saterdag ʼn verdagte in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen in Eersterivier. Beamptes het omstreeks 12:30 ʼn taxi genader toe dit ʼn verkeersontwrigting veroorsaak het. Terwyl hulle die bestuurder ondervra het, het hulle ʼn skouersak opgemerk en versoek om die sak te deursoek. Die bestuurder wou weghardloop, maar is aangekeer. Beamptes het beslag gelê op ʼn pistool en twee patrone. Die 31-jarige man is in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.