Toetssaak oor US-taalbeleid gaan ‘rigtinggewend’ wees

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch

Die organisasie Gelyke Kanse sê die toetssaak in die Konstitusionele Hof oor die kwessie van die reg tot onderrig in Suid-Afrika se inheemse tale op tersiêre vlak, kan rigtinggewend wees vir al 26 Suid-Afrikaanse universiteite, waarvan die meeste slegs onderrig in Engels aanbied.

Prof. Philip Spies, woordvoerder van Gelyke Kanse, sê die organisasie, asook ʼn groep Matie-studente, het appèl aangeteken teen ʼn uitspraak van die Kaapstadse hooggeregshof wat die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) handhaaf.

Die saak word môre in die Konstitusionele Hof in Johannesburg aangehoor.

Gelyke Kanse, ʼn organisasie wat hom vir die toekoms van Afrikaans op tersiêre vlak en die opheffing van alle inheemse tale beywer, voer aan dat die US strydig met die Grondwet, wat onderrig in ʼn amptelike taal van keuse tot op die hoogste vlak waarborg waar dit redelikerwys doenbaar is, onder politieke druk geswig en Afrikaans begin afgradeer het.

“Ons wil die proses van algemene verengelsing in skole temper deur te sê Afrikaanse onderrig, maar ook alle moedertaalonderrig, is belangrik en dit word só in die Grondwet bepaal,” het Spies gesê.

“Dit is belangrik dat moedertaalonderrig op die agenda geplaas word.”

Volgens hom het die verengelsing van tersiêre instellings ʼn rimpeleffek en kan die beleid later afrol na skole. Hy het gesê talle Afrika-akademici beklemtoon die belang van moedertaalonderrig in die ontwikkeling van Afrika en Afrikaans word as ʼn suksesverhaal voorgehou.

“Alles kan nie verengels net omdat die politiek dit voorskryf nie.”

Oor die koste van byvoorbeeld vertaaldienste sê Spies hoewel universiteite moet streef na uitnemendheid, moet dié uitnemendheid tot voordeel wees van die gemeenskappe wat hulle dien. Volgens hom maak moderne tegnologie streekskampusse en afstandonderrig baie makliker beskikbaar en kan dít gebruik word as maniere om studente in hulle moedertaal te bedien.

“Voor jy kan sê dit is onbekostigbaar, moet jy vra of jy Suid-Afrika wil ontwikkel, of net vir jouself wil sorg.

“Ons moenie net kyk wat die gedeelte van die bevolking, wat reeds die vermoë het om te gaan studeer, wil hê nie. Ons moet ook kyk na wat die ánder groepering wil hê wat weens taalhindernisse nié toegang tot ʼn universiteit het nie.”

Spies sê die saak gaan nie net van belang wees vir universiteite nie, maar ook vir skole wat tot gr.4 in inheemse tale klasgee, maar daarna gedwing word om na Engels oor te slaan.

“Gesaghebbende navorsing het getoon dat hierdie beleid besonder nadelige gevolge inhou – nie net vir sodanige leerders nie, maar ook vir ʼn land se ontwikkeling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johnny ·

Kan die howe nie maar die parlement oor vat nie al die besluite en projekte eindig in howe.pleks verbeter bestaande wetgewing

Swannie ·

Mense julle r(p)oep teen donderweer.
Die land is aan die ANC gegee en hulle is nou in beheer. Wat hulle ook al besluit, sal deur die howe bekragtig word. As die Hoofregter alreeds besluit het dat slegs Engels in sy hof gebesig sal word, is dit al klaar nag vir ons. Sover ek weet het geen organisasie hom teengegaan is sy besluit nie.

Piesang ·

Ek dink die afrikaner verraaiers in ons midde is ‘n groter gevaar vir ons taal as die ANC. En dan natuurlik ons “afrikaanssprekendes” self ook. Luister maar na 99% gesprekke en jy hoor amper meer engelse woorde as afrikaans. Ons het ‘n slapgat volk geword. Dit is die rede hoekom ons tans in die situsie is waarin ons verkeer. Die afrikanerlorrie storm al vinniger die steilte af!

De Villiers ·

Prof. Spies, dankie vir jul visie, en dat julle sodoende die Afrikaanse taal, onder andere, probeer beskerm en uitbou, en dit vir ons kinders en daaropvolgende geslagte moontlik maak om in hul moedertaal onderrig te ontvang.

JohanL ·

Hierdie is ‘n baie groot en belangrike toetssaak met potensiele groot gevolge vir ELKE taal in die land.

MM hou ons op hoogte asb.

James ·

Wens julle sterkte toe.
Dei groot probleem is De Villiers – want hy is in die ANC se sak en hy klou soos ‘n neut.
Hy sal sy siel verkoop om Afrikaans te kan vernietig – en hy het ‘n paar maatjies wat dieselfde by ander uiversiteite doen.

Jerry ·

Rigtinggewend? Jy vat net sake aangaande taal hof toe wat jy nie kan verloor nie, omrede jy, wanneer jy verloor, die taal al dieper die politieke moeras insleep. Met Afriforum vs UV het ons die gevolge gesien wanneer jy n saak oor taal verloor en met die Jiba uitspraak het ons gesien dat die hof nie meer onafhanklik van ANC politiek en ideologie staan nie! Die vorige gebeurtenisse aangaande Afrikaans as taal en die howe se uitsprake was dus reeds rigtinggewend!

Ruiklont ·

Sterkte aan jul wat veg vir afrikaans asook inhermse tale. Dit is onrusbarend hoe engels af forseer word en hoe sommige taalgroepe hul kinders engels voer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.