Tonne babaformulemelk na VSA vervoer

Die tekort aan formulemelk broei is vererger deur verskaffingsprobleme en die sluiting van ʼn fabriek wat die produk vervaardig. (Foto: Samuel Corum/AFP)

ʼn Amerikaanse weermagvliegtuig met tonne broodnodige babaforumelemelk aan boord het die naweek op ʼn lughawe in Indiana aangekom, terwyl die owerhede skarrel om ʼn kritieke tekort aan die produk te probeer oplos.

Babaformulemelk in die VSA is in hierdie stadium bitter skaars weens produksie- en verskaffingskettingprobleme wat duisende ouers – wie se kinders op die formulemelk staatmaak – desperaat laat soek na die produk.

Die vragvliegtuig het op die Amerikaanse lugmagbasis by Ramstein in Duitsland opgestyg met meer as 31 ton formulemelk aan boord, het die Withuis gesê.

Pres. Joe Biden het uit Japan, waar hy op besoek is, oor die belangrike vlug getwiet. “Ons span werk sonder ophou om formulemelk uit te kry by almal wat dit benodig,” het hy gesê.

Biden het later gesê nóg formulemelk is op pad na die VSA in ʼn tweede besending.

“Ons het ʼn tweede vlug bevestig om Nestlé se spesialisbabaformule na Pennsylvania te vervoer,” het die president gesê.

Die eerste besending maak voorsiening vir sowat 15% van die onmiddellike behoefte aan die formulemelk, terwyl nog produkte ingevoer sal word tydens wat die VSA Operation Fly Formula gedoop het.

Die formulemelk is na Indiana gevlieg waar daar ʼn groot Nestlé-aanleg is. Dit sal gehaltetoetse daar ondergaan voordat dit versprei word.

Die VSA het hom ook op die Defense Production Act beroep om te verseker dat vervaardigers wat die bestanddele beskikbaar het om veilige, gesonde formulemelk te maak, dit doen. Die gebruik van die wetgewing beteken ook verskaffers van bestanddele moet ook lewering aan formulemelk-vervaardigers prioritiseer, terwyl die verspreiding van die produk beheer kan word, indien nodig.

Die tekort aan formulemelk broei nou al maande lank en is vererger deur nie net verskaffingsprobleme wat met die Covid-19-pandemie verband hou nie maar ook die sluiting van ʼn fabriek van Abbott Laboratories te midde van kommer dat besmetting van sy produk tot die dood van twee babas gelei het.

Brian Deese, ʼn ekonomiese raadgewer van die president, het aan CNN gesê ʼn “vervaardiger het nie by die reëls gehou nie en het babaformulemelk gemaak met die gevaar dat dit babas kan siek maak. Ons moes stappe doen.”

Nog ʼn probleem is dat net drie groot maatskappye die produk vervaardig en daar gaan in die toekoms probeer word om mededinging te verhoog.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika word nie in hierdie stadium geraak deur die tekort nie en plaaslike produksie was teen verlede week heeltemal stabiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

As dié babaformule-tekort tydens die vorige bewind gebeur het, sou die president ‘n “baby-murderer” genoem word deur CNN en die twee groot leuenagtige koerante, die NYT en WAPO. “Impeachment” sou volg.

Anel ·

My kinders het sommer op gewone, vars, beesmelk groot geword. Hulle wou nie blikmelk drink nie. En vandag is hulle gesonde volwassenes sonder enige geite of alergië.

Annie Webb ·

Ek lees in die VSA-media daar word vragte formulemelk na hulle suidgrens gestuur vir die derduisende onwettige migrante wat met verhongerde kinders daar aangestap kom uit mislukte state in Suid-Amerika.

Miskruier ·

Moeders plaas hulself in sulke situasies, voed jou baba soos dit hoort en moenie hul in die hande van skatryk fabrikante plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.