SA nie geraak deur tekort aan formulemelk vir babas

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Isaiah Villar/Unsplash)

Die VSA ervaar tans ʼn ernstige tekort aan formulemelk vir babas, met talle ouers wat paniekerig raak oor die skielike skaarste van die produk. Suid-Afrikaners hoef egter nie hieroor bekommerd te wees nie, aangesien voorsiening van plaaslike produksie stabiel bly.

Die data-insamelingsagentskap Datasembly het verlede week gesê dat meer as 40% van die babaformulemelk-voorraad wat gewoonlik by Amerikaanse kleinhandelaars verkoop word, nie nou beskikbaar is nie. Sommige kleinhandelaars het ook reeds begin om die aantal houers wat ouers kan koop te beperk.

Dié tekort hou verband met probleme in die voorsieningsketting nadat ʼn groot fabriek in die VSA in Februarie gesluit is. Kenners meen nou dat die tekort moontlik nog weke lank kan duur voordat voorrade voldoende aangevul kan word.

Maroela Media het vroeër berig dat Abbott Laboratories-Nutrition, wat sy formulemelk by ʼn aanleg in Michigan in die VSA vervaardig en na verskeie lande, ook Suid-Afrika, uitvoer, in Februarie genoop was om van sy produkte as ʼn voorsorgmaatreël te onttrek.

Die produkte is onttrek nadat klagtes in die VSA aangemeld is dat cronobacter- en salmonella-organismes in die betrokke formulemelk aanwesig is. Produkte wat in Suid-Afrika verkoop is, is ook deur die maatskappy onttrek vir toetse.

ʼn Ondersoek deur die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het bevind dat Abbott se babamelk wel veilig is, maar byna 500 “waarnemings” is oor die maatskappy se fabriek gemaak, berig AFP.

“Ons het dadelik opgetree en remediërende stappe geïmplementeer. Onderhewig aan die FDA se goedkeuring kan ons aanleg in Michigan binne die volgende twee weke weer aan die gang wees,” het die maatskappy gesê.

Business Insider berig dat kleinhandelaars en een groot produsent se aanbod van babaformulemelk in Suid-Afrika nog stabiel is en dat dit wat in die VSA gebeur waarskynlik nie in die plaaslike mark ondervind sal word nie.

“In Suid-Afrika het ons tans genoeg voorraad om in die huidige aanvraag te voorsien. Ons verwag nie risiko’s in die aanbod in die nabye toekoms nie,” het Saint-Francis Tohlang, Nestlé se direkteur van korporatiewe kommunikasie en openbare aangeleenthede vir die Oos- en Suider-Afrika-streek, aan Business Insider, gesê.

“Ons roetine-babaformulemelk word plaaslik vervaardig, en ons is vol vertroue in ons vermoë om in die aanvraag te voorsien. Ons funksionele babaformulemelk word ingevoer, maar ons het tot dusver geen risiko’s in die verskaffing daarvan uitgelig nie.”

Kleinhandelaars soos Clicks, Dis-Chem en Pick n Pay het ook aan Business Insider gesê dat hulle voorraadvlakke stabiel is ten spyte van die probleme wat die VSA in die gesig staar.

In ʼn poging om die formulemelkvoorrade in die VSA aan te vul, het die FDA onderneem om planne te beraam sodat formulemelk wat elders vervaardig word, ingevoer kan word.

Die FDA verbied tans die meeste buitelandse formulemelk, insluitend produkte wat in Europa vervaardig word. Dit is nie weens die gehalte van die produkte nie, maar eerder weens etikettering en verpakkingstandaarde.

“Ons glo dat hierdie en ander deurlopende pogings sal help om die aanbod in die VSA in ʼn kwessie van ʼn paar weke dramaties te verbeter,” het Robert Calliff, hoof van die FDA, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Moeilik om met ‘n kers dit voor te berei . Gelukkig het die Amerikaaners nie nog eksdom ook nie .

Perdeby ·

Shame! Dis seker loadshedding se skuld as daar nie water is nie. Jy is nou net soos die kaders gee arme Jan die skuld vir alles

VaalDonkie ·

Jy kan ‘n twee plaat gasstoof vir R300 koop. Gaan kyk daar by Checkers in die “small appliances” rak. Koop sommer ‘n flitsie ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.