Tot 33% van studente kan op vlak 3 na kampusse terugkeer

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande. (Foto: Siyabulela Duda)

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, sê daar word hard gewerk om die 2020- akademiese jaar te red en dat streng gesondheidsmaatreëls gaan geld wanneer studente stelselmatig na kampusse begin terugkeer.

Kampusse moet verseker hulle het die nodige planne en stelsels gereed om die verspreiding van Covid-19 te verminder, asook deeglik voorbereid wees op die terugkeer van studente, het hy Saterdag gewaarsku.

Nzimande het ook gesê daar kan nie ʼn pasgemaakte benadering wees dat almal moet slaag nie.

Universiteite

Nzimande sê alle openbare universiteite het reeds omvattende afstandonderrigmodelle ontwikkel wat tydens die huidige afsonderingstydperk gebruik word.

Vlak 4 (Mei 2020)

Op vlak 4 van die afsonderingsregulasies sal finalejaarstudente in rigtings wat kliniese opleiding vereis, begin. Daar word begin met MBChB-studente, en verpleegkunde, tandheelkunde, veeartsenykunde en ander rigtings volg daarna.

Mediese studente het reeds op 11 Mei begin terugkeer en die res sal vanaf 1 Junie volg.

Alle ander studente sal afstandonderrig ontvang tot hulle na kampusse kan terugkeer.

Vlak 3

Op vlak 3 sal tot 33% van studente toegelaat word om terug te keer na kampusse en koshuise solank hulle veilig en in ooreenstemming met gesondheid- en veiligheidsprotokol daar gehuisves kan word.

Diegene wat mag terugkeer, sluit in:

  • Almal wat reeds op vlak 4 teruggekeer het
  • Finalejaarstudente wat waarskynlik in 2020 gaan gradueer
  • Finalejaarstudente wat toegang tot laboratoriums, tegniese toerusting, data en koshuise of private verblyf benodig
  • Alle studente wat kliniese opleiding benodig
  • Nagraadse studente wat laboratorium- en ander toerusting benodig

Nzimande sê instellings mag ook oorweeg dat sekere studente wat onder moeilike omstandighede tuis leer, mag terugkeer.

Studente sal na gelang van die omstandighede tussen twee en drie weke hê om na kampusse terug te keer nadat ʼn nuwe vlak aangekondig word. Die minister het onderneem om regulasies hieroor af te kondig om sulke reise toe te laat.

Studente wat nog nie teruggekeer het nie, se afstandonderrig sal voortgesit word.

Vlak 2

Op vlak 2 van die afsonderingsregulasies mag tot 66% van studente na kampusse terugkeer.

Dit sluit in:

  • Almal wat reeds teruggekeer het
  • Alle studente wat laboratorium- of ander tegniese toerusting benodig
  • Studente wat indiensopleiding moet ontvang
  • Alle voorgraadse finalejaarstudente

Vlak 1

Wanneer Suid-Afrika op vlak 1 van die afsonderingsregulasies is, moet alle studente terugkeer.

“Ons gaan dus sosiale afstandhandhawing en gesondheidsprotokol uiters streng afdwing,” het Nzimande gesê.

Instellings sal self bepaal hoe studente na koshuise terugkeer en wat gedoen moet word in ooreenstemming met hoeveel studente gehuisves kan word waarin gemeenskaplike ruimte, higiëne, sosiale afstandhandhawing en eetsaalgeriewe in ag geneem word.

Voorkeur sal verleen word aan gestremdes en diegene wat nie tuis toegang tot aanlyn onderrig het nie.

TVET-kolleges

Nzimande sê ʼn voorlopige akademiese kalender is opgestel wat sal afhang van aankondigings oor die koronavirusvlakke.

Die voorlopige datums lyk só:

Ingenieurswese:

N6, N3: 10 Junie

N5, N2: 15 Junie

N4, N1: 22 Junie

Sakestudies:

N6: 25 Junie

N5: 29 Junie

N4: 6 Julie

NC(V)-studente

Vlak 4: 13 Julie

Vlak 3: 20 Julie

Vlak 2: 27 Julie

Nzimande sê verskeie kolleges het reeds leermateriaal vir radio- en televisieuitsendings ontwikkel en e-gidse, ou vraestelle, WhatsApp-groepe en video’s word gebruik om studente te help.

Gemeenskapsopleiding en -onderrig

Nzimande sê akademiese programme sal in ooreenstemming met dié van die departement van basiese onderrig hervat word omdat daar grootliks van sy infrastruktuur gebruik gemaak word. Waar opleidingsentrums in gebiede is waar vlak 4 volgehou word, sal dit gesluit bly.

Gemeenskapskolleges verskaf onderrig aan volwassenes wat meestal saans klasse bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.