Tottenham Hotspur-borgskap finaal van die baan

Tottenham Hotspur (Foto: SAT)

Die SA Toerismeraad (SAT) se beoogde borgskap vir Tottenham Hotspur is finaal van die baan.

Patricia de Lille, minister van toerisme, sê die voorsitter van die raad het ingestem om nie met die borgskap voort te gaan nie, gebaseer op die aanbeveling wat sy gemaak het.

Maroela Media het vroeër berig De Lille was nie betrokke by die transaksie nie, aangesien sy nuut in die portefeulje is. De Lille het verlede week tydens ’n mediakonferensie gesê sy het ná haar aanstelling as minister van toerisme verlede maand advies van senior regslui ingewin wat daarop dui dat die beoogde borgskap van R1 miljard onregmatig en onwettig is. Sy het aanbeveel dat onderhandelinge oor die beoogde borgskap gestaak word.

“Die SAT sal nie meer met die transaksie voortgaan nie en ook nie goedkeuring vra vir die saamlopende vereistes vir die voorgestelde transaksie nie.”

De Lille sê in die huidige ekonomiese klimaat moet die gebruik van staatsfondse baie noukeurig oorweeg word en om seker te maak dat departemente hul mandaat op ʼn kostedoeltreffende manier uitvoer, moet daar ʼn rits opsies oorweeg word waartydens alle prioriteite in ag geneem word.

“Ons regverdiging vir enige beduidende uitgawes moet steeds sin maak in die breër ekonomiese klimaat waarin ons as ʼn land onsself bevind.”

De Lille sê sy sien uit daarna om in die verband steeds met SAT se raad en uitvoerende bestuur saam te werk oor strategiese aksie wat gedoen kan word om Suid-Afrika se posisie wêreldwyd as ʼn top-toeristebestemming te verbeter.

“Ek sal ook voortgaan om met SA Toerisme en die departement saam te werk in meer besonderhede oor die departement se begroting om seker te maak ons voldoen aan ons mandaat om toeristegetalle te laat bly toeneem, die nodige ondersteuning te verskaf om groei te verseker, werkskepping te verhoog en die bedryf se bydrae tot die ekonomie te vergroot.”

De Lille het haar verwagting uitgespreek dat alle toekomstige voorstelle so gou as moontlik met haarself en die departement bespreek sal word. “In samewerking met SA Toerisme sal ons van die begin af saamwerk en mekaar se raad en ondersteuning soek terwyl alle voorskrifte en regsvereistes gevolg word.”

Sy sê die saak is nou afgehandel en haar departement wil graag ʼn omgewing skep wat voordelig is vir die privaat sektor om in te belê en deel te word van regeringsinisiatiewe binne die regsraamwerk om toerisme te laat bly groei, meer besoekers te verwelkom en meer werk te skep vir mense in die bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

So gaan die persone betrokke by die reel van die onwettige en onreelmatige borgskap ondersoek en vervolg word?

boerie ·

Nou moet al die omkoop geld ook terug betaal word, De Lille jy gaan ongewild wees.

Casper ·

Daar is geen manier dat hierdie borgskap toerisme sal bevorder nie.Die waarheid agter die borgskap sal wel uitkom.

Mauritz ·

Casper, die waarheid sal moontlik uitkom maar op geen manier sal daar gevolge wees vir die korrupte kaders aan wie ‘n klomp omkoopgeld betaal is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.