Tottenham Hotspur-borgskap: Halfmiljoen se reiskoste aangegaan 

Tottenham Hotspur (Foto: SAT)

Meer as R500 000 is bestee aan reiskoste vir raadslede van Suid-Afrikaanse Toerisme in verband met die beoogde borgskap vir Tottenham Hotspur.

Patricia de Lille, minister van toerisme, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van DA-LP Haseena Ismail gesê R523 274,97 is op die reiskoste vir vier raadslede spandeer. Die raadslede is vroeër vanjaar Londen toe om die beoogde borgskap met Tottenham Hotspur te gaan bespreek.

De Lille was nie betrokke hierby nie aangesien sy nuut in die portefeulje is. De Lille het Vrydagoggend tydens ’n mediakonferensie gesê sy het ná haar aanstelling as minister van toerisme verlede maand advies van senior regslui ingewin wat daarop dui dat die beoogde borgskap van R1 miljard onregmatig en onwettig is.

Sy het nou aanbeveel dat onderhandelinge oor die beoogde borgskap gestaak word. Volgens die regsadvies is die beoogde borgskap in werklikheid ’n verkrygingsgeleentheid wat nie aan artikel 217 van die Grondwet voldoen nie aangesien die Suid-Afrikaanse regering nie die enigste bron is wat die borgskap kan verskaf nie.

Die voorgestelde borgskap is ook onwettig omdat daar nie daarvoor begroot is nie en dit op ’n “beduidende vennootskapstransaksie” neerkom wat De Lille se goedkeuring vereis voordat dit goedgekeur kan word.

De Lille het daarom ’n skrywe aan die SA Toerismeraad (SAT) gerig waarin sy dié argumente uiteensit en onder meer vra of die borgskap al formeel gekanselleer is.

Dr. Thozamile Botha, voorsitter van die raad, het intussen teruggeskryf. Volgens Botha het die raad voorwaardelik met Tottenham Hotspur ooreengekom dat hy die minister van toerisme en die nasionale tesourie vir die nodige goedkeuring sal nader. Dit beteken egter nie daar is al enige formele ooreenkoms aangegaan nie.

“Daarom, agbare minister, voer ons nederig aan dat daar feitelik tans geen ‘onregmatige en ongeldige’ transaksie is nie aangesien die transaksie nie bestaan nie,” lui Botha se brief.

Volgens De Lille het sy ook twee weke gelede ’n skrywe aan die minister van finansies gerig om navraag te doen of hy die voorgestelde borgskap goedgekeur het. Minister Enoch Godongwana het egter nog nie op die brief gereageer nie.

“Gegewe die omstandighede waarin ons ons ekonomies bevind, moet alles wat ons as regering doen baie versigtig oorweeg word,” sê De Lille. “Fondse moet te alle tye wys en omsigtig bestee word aangesien die publiek se geld aan ons toevertrou word .”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.