Troeteldiere kom om in huisbrand

(Foto: Drakenstein Farm Watch)

ʼn Gesin se troeteldiere het Donderdagoggend omgekom toe ʼn brand in hul plaashuis uitgebreek het.

Daan van Leeuwen Boomkamp, algemene bevelvoerder van Drakenstein Farm Watch, sê dié brand- en reddingsdiens is omstreeks 08:25 deur WhatsApp-boodskappe ontbied waar ʼn brand naby plaashuise by Diamantplaas Paarl uitgebreek het.

“Die DFW het ʼn lid op Diamantplaas en ons het twee voertuie gestuur om ondersoek in te stel.”

Daar was nie enige brand op die landgoed nie, maar die digte mis het dit onmoontlik gemaak om rook of vlamme te sien.

“Verdere ondersoek het bepaal dat die brand elders op die R45 uitgebreek het en die twee spanne het hul soektog voortgesit. Tot hul verbasing is hulle na ʼn plaas kilometers ver verwys. Dit was uiteindelik nie ʼn veldbrand nie, maar ʼn huis wat in ligte laaie gestaan het.”

Op die toneel het die DFW spanne ontdek dat twee honde en ʼn kat reeds van rookinaseming omgekom het. Die res van die gesin se huisware is in die brand verwoes.

Die diere is na buite gedra, maar niks kon meer vir hulle gedoen word nie.

“Die hartseerste, buiten die drama vir die bejaarde egpaar, is dat niemand die brandweer of die DFW-vrywilligersgroep gekontak het om ʼn huisbrand aan te meld nie; selfs al was mense op die toneel. Dit is bloot toeval dat die spanne ondersoek op die plaas gaan instel het.”

“WhatsApp-boodskappe word ongelukkig te veel keer met baie min of byna geen inligting nie gestuur; veral wanneer dit van ander groepe oorgedra word sonder ʼn tydsraamwerk,” sê Van Leeuwen Boomkamp. “Die 15 minute wat die span spandeer het om die regte toneel te soek, kon die verskil wees tussen lewe en dood.”

(Foto: Drakenstein Farm Watch)

(Foto: Drakenstein Farm Watch)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

SO hartseer! Hoe het die brand onstaan en waar is die bewoners van die huis?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.