Troeteldiere ook deur ekonomie geraak

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die feesseisoen is vir baie van ons ʼn tyd van vreugde en rus. Vir baie van ons vierpotige vriende kan dit egter in ʼn tyd van angs en verwerping ontaard.

Dit is ʼn algemene tendens dat meer diere in Desember as in ander maande by diereskuilings afgelaai word.

Kenners is dit eens dat Suid-Afrika se ongunstige ekonomiese toestande daartoe kan lei dat troeteldiere vinnig aan die kortste ent kan trek.

Jacques Peacock, woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), sê Desember tot Februarie is gewoonlik die besigste maande vir dierebeskermingsverenigings en dierewelsynsorganisasies regoor die land.

“’n Toename in rondloperdiere is basies ʼn gegewe rondom feestye soos Kersfees, Guy Fawkes, Diwali en Oujaarsaand. Gesinne gaan dikwels met vakansie of besoek familie en in baie gevalle word troeteldiere nie by die reisplanne ingesluit nie.”

Volgens Peacock is daar ook al meer diere wat nie meer deur hul eienaars versorg kan word nie.

“Die NDBV voel werklik die negatiewe uitwerking van die huidige ekonomiese klimaat, veral nou met die feesseisoen om die draai. Ons werkslading het drasties toegeneem aangesien ʼn tekort aan geld hand aan hand met laer vlakke van dierewelsyn gaan,” sê Peacock.

“Mense trek byvoorbeeld nou na kleiner huise toe, wat nie hul troeteldiere kan akkommodeer nie en al meer mense benodig hulp van DBV’s met betrekking tot basiese behoeftes soos kos en veeartsenykundige sorg.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Marcelle du Plessis, fondsinsameling- en kommunikasiebestuurder by die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap, sê die kliniek se skuilings is propvol oor Desember en dat hulle sukkel om geskikte huise vir al die diere te kry.

“Mense wat nie verantwoordelikheid neem vir hul diere of self oplossings vir hul probleme vind nie handig hul diere aan dierebeskermingsverenigings en ander dierewelsynorganisasies oor.

“Dit plaas ongelooflik baie druk op hierdie organisasies en veroorsaak dikwels dat daar nie in diere wat in ernstige nood verkeer se behoeftes voorsien kan word nie,” sê Du Plessis.

Sy vertel dat baie van die honde wat in Desember aan hulle oorgehandig word, vroeër vir hondgevegte gebruik is.

“Hierdie honde kom glad nie oor die weg met ander honde nie en moet dus huise kry waar hulle alleen kan wees – dit is uiters moeilik om geskikte huise vir hierdie honde te kry.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Peacock sê DBV’s regoor die land werk dag en nag om huise vir troeteldiere te kry.

“Daar is egter eenvoudig nie genoeg geskikte huise nie. Ons het tans ʼn oorbevolking van troeteldiere wat deur onoordeelkundige teling, onverantwoordelike voogdyskap van troeteldiere, gebrek aan sterilisasie en onvoldoende toepassing van wetgewing veroorsaak word. Hierdie diere eindig meestal by die DBV en ander dierewelsynsorganisasies op.”

Hy sê diere waarvoor geskikte huise nie gekry kan word nie, moet noodgedwonge uitgesit word.

“Ons streef na die dag wanneer gesonde diere nie meer weens die gebrek aan geskikte huise uitgesit hoef te word nie.

“Die DBV glo egter dat ongewenste troeteldiere ʼn waardige, pynlose dood verdien eerder as dat hulle lyding weens wanvoeding, siekte, trauma of fisieke mishandeling moet verduur.”

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Peacock sê die NDBV herhaal dat die troeteldiere in jou sorg jou verantwoordelikheid is.

“Jy moet verseker dat hulle veilig en versorg is, veral as jy weet jy gaan weg met vakansie en dat daar vuurwerk gaan wees.”

Dink aan jou diere dié Desember

Peacock en Du Plessis sê dit is belangrik om elke dag verantwoordelikheid vir jou troeteldiere te neem, maar veral nou – tydens die feesseisoen – wat angswekkend vir troeteldiere kan wees.

“Indien jy vir die vakansie weggaan, moet jy seker maak jy het ʼn betroubare troeteldieroppasser, jou troeteldiere by ʼn betroubare fasiliteit los, of ʼn vriend of familielid vra om vir jou diere te sorg terwyl jy weg is. Gee duidelike instruksies oor hul roetine, dieetbehoeftes en enige medikasie.

“Ons herhaal, moenie jou troeteldiere sonder behoorlike sorg by die huis laat nie. Eensaamheid en gebrek aan aandag kan vir hulle baie stresvol wees en ernstige implikasies hê.”

Red ʼn troeteldier se lewe

Peacock sê hy wil graag lede van die publiek aanmoedig om die NDBV te ondersteun deur tot enige van hul verskeie inisiatiewe by te dra.

“Ons voorkom wreedheid, bevorder vriendelikheid en verlig die lyding van diere. Ons doelwit is om alle diere te dien en te beskerm, om hul welsyn te verseker en om toe te sien dat hulle ingevolge die Suid-Afrikaanse wet beskerm en gerespekteer word.

Ons missie is om wreedheid te voorkom en die welsyn van alle diere te bevorder, terwyl dit ons visie is om dieremishandeling in Suid-Afrika te beëindig en deernis vir alle diere te wek.

“Elke bydrae maak saak!”

Hier is ook ʼn paar borgvoorstelle van die Mdzananda-dierekliniek:
R40: Vlooi- en bosluisbehandeling
R70: Inenting
R100: Kos vir een troeteldier vir ʼn week
R200: Hondjie/katjie se drie noodsaaklike inentings en ontwurming
R300: Kos vir ʼn gehospitaliseerde troeteldier per maand
R500: Versorging van ʼn skuilingtroeteldier per maand
R650: Een sterilisasie
R1 000: Een parvo-pasiënt behandeling
R5 000: Een ortopediese operasie

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.