Trokbetogings: Twee vas vir ‘gesteelde’ drank

Twee vragmotorbestuurders is in hegtenis geneem ná vermoedelik gesteelde drank in hul vragmotors gevind is (Foto: Verskaf)

Twee vragmotorbestuurders is Dinsdagaand op die N3 buite Harrismith in die Vrystaat in hegtenis geneem ná vermoedelik gesteelde drank in hul vragmotors gevind is.

Dié vragmotorbestuurders was deel van die betogers wat sedert Sondag geweier het om hul vragmotors te skuif sodat ander motoriste die pad kon gebruik.

Maroela Media het vroeër berig dat gegriefde vragmotorbestuurders tussen Sondag en Dinsdag verskeie hoofpaaie in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap versper het weens hul ontevredenheid oor die aanstel van buitelandse vragmotorbestuurders. Die betogers meen Suid-Afrikaners word sodoende van werksgeleenthede ontneem.

Die betogings het grootskaalse verkeersopeenhopings veroorsaak.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het die polisie se reaksiespan vir openbare orde op Welkom Dinsdag omstreeks 20:30 gereageer op klagtes by die padblokkade op die N3 digby Harrismith. Hulle het klagtes ontvang oor bestuurders wat die vensters van sekere vragmotors gebreek en drank gesteel het.

“Die lede het ondersoek gaan instel en twee mans gevind wat drank in ’n sloot weggesteek het. Toe hulle die polisie sien, het hulle probeer weghardloop, maar lede het daarin geslaag om hulle ’n paar meter verder te vang,” sê Makhele.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 35 en 45 jaar oud, is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

“Die polisie het op dertig 500 ml-houers drank ter waarde van meer as R2 000 beslag gelê.”

Die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die landdroshof op Harrismith verskyn.

Volgens Fikile Mbalula, minister van vervoer, het pres. Cyril Ramaphosa ’n interministeriële komitee, gelei deur die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, opdrag gegee om aandag aan die kwessies te gee wat deur die vragmotorbestuurders en klein vragmotoroperateurs geopper is. Hierdie komitee is druk besig om hierdie kwessies te bespreek tydens ’n aantal vergaderings met belanghebbendes.

“In die hantering van hierdie uitdagings, is ons bedag op die ekonomiese impak van enige ontwrigting op die voorsieningskettings en vraglogistiek reg oor die land. Ons het dus ’n bindende onderneming aangegaan om hierdie kwessies te takel op ’n wyse wat volhoubaarheid van ons ingrypings sal verseker. Sommige van hierdie ingrypings kan ’n langer aanloopbaan nodig hê, aangesien dit wetswysigings kan vereis,” sê Mbalula.

Mbalula het reeds met van die vragmotorbestuurders vergader om hul eise aan te hoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Shakespeare ·

Foto van twee BLM ?? Hoe is dit moontlik. Botter kan dan nie eers in hul mond smelt nie. Moet fop nuus wees.

Waarnemer ·

Ek betoon my simpatie met hierdie werkers(nie die drank diewe nie) want die regering sowel as privaat instansies stel Zimbawiers aan eerder as Suid Afrikaanse werkers om hul trokke landwyd te bestuur omrede dit GOEDKOPER arbeid is en dit ontneem Suid Afrikaners van n werk en daarom is daar so baie werkloses in ons land.Die ANC moet uitgestem word sodat ons n regverdige regering aan bewind kry en die spul uitlanders geheel en al verban uit Suid Afrika.(Kruisig my maar ,maar dit is n feit soos n koei dat baie werknemers eerder Zimbabwiers aanstel omdat hulle bereid is om vir peanuts te werk.)

Sarel ·

Mbalula…nie jy of jou Kolega met die Hoedjie doen julle werk nie…

Johan ·

Het ek reg gelees,die boewe het weggehardloop(seker gesuip)en toe vang die polisie hulle??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.