Tronkstraf vir vragmotorkaper wat polisie lank ontduik

(Foto: SA Polisie)

ʼn Vragmotorkaper wat die polisie sedert 2017 ontduik het, is vandeesweek eindelik op aanklag van kaping en gewapende roof skuldig bevind en gevonnis.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê Jose Romao Sozinno (38), ʼn Mosambiekse burger, is 15 jaar tronkstraf opgelê vir ʼn kaping meer as agt jaar gelede.

Sozinno het in Julie 2012 ʼn vragmotor by ʼn stopstraat in Belfast in Mpumalanga gekaap. Hy het die bestuurder met die dood gedreig as hy nie die vragmotor se sleutel oorhandig nie. Die bestuurder het die sleutel oorhandig, waarna Sozinno met die vragmotor weggery het.

Die eienaar van die vragmotor was op dieselfde roete, het die vragmotor voorgekeer en Sozinno self in hegtenis geneem.

Hy is in 2017 op borgtog vrygelaat, maar het daarna nie weer vir enige van sy hofverskynings opgedaag nie. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en Sozinno is in Maart verlede jaar in Sebenza in Johannesburg aangekeer, het Sekgotodi gesê.

“Hy was in aanhouding totdat hy op 9 September skuldig bevind is. Die Middelburg-streekhof het hom Maandag gevonnis,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansie ·

In 2012 in hegtenis geneem en in 2017 op borgtog vrygelaat, in 2019 in hegtenis geneem en eers meer as ‘n jaar later gevonnis? Wie gaan vir die vermorste kostes van hierdie uitgerekte hofsaak betaal? O ja, die belastingbetalers met die diep sakke. Swak, uiters swak.

Sarel ·

2012 gearresteer…. verskyn in hof 2017 ( wat van die ander 5 jr. )Waar was hy? Toe vrygelaat op borg??? Nou gevonnis tot net 15jr = effektief 8 – 10 jr dan Parool

Moedeloos ·

As ek in ander lande hul wette oortree sien ek nooit weer my land of familie nie. Hier in SA word buitelanders wat ons wette oortree gepamperlang. Skandelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.