Tshwane-veelpartykoalisie weer in gevaar  

Cilliers Brink. Foto: Twitter

Die veelpartykoalisie in die Tshwane-metro wil optree teen die speaker, ʼn lid van Cope, oor sy beweerde weiering om ʼn dringende raadsvergadering byeen te roep om ʼn nuwe burgemeester te verkies.

Volgens dr. Corné Mulder, voorsitter van die koalisie-toesiggroep, is dit ondanks die feit dat ʼn meerderheid van die raadslede ʼn petisie onderteken het wat ʼn vergadering versoek.

“Murunwa Makwarela is sedert die ontstaan van dié koalisieregering lid van die veelpartykoalisie, maar het blykbaar met die ANC en EFF belyn in ʼn poging om as die burgemeester van die munisipaliteit verkies te word.

“Die kwessie ter sprake is die tydsberekening van die verkiesing van ʼn nuwe burgemeester asook die aanvaarding van die aanpassingsbegroting,” het Mulder gesê.

“Die speaker het die vergadering om ʼn nuwe burgemeester te verkies vir 28 Februarie geskeduleer, wat sal verhoed dat die aanpassingsbegroting teen die wetlike sperdatum van dieselfde dag goedgekeur kan word. Dit laat die deur oop vir die provinsiale regering om die metro onder administrasie te plaas, aangesien die premier van Gauteng reeds sy voorneme om dit te doen te kenne gegee het.”

Die veelpartykoalisie het intussen ooreengekom om ʼn brief aan die munisipale bestuurder te stuur om ʼn raadsvergadering te belê, aangesien die speaker geweier het om gehoor te gee aan die petisie.

“ʼn Mosie van wantroue in die speaker sal ook ingedien word vir sy doelbewuste optrede om die veelpartykoalisie in gevaar te stel en vir sy verontagsaming van die wet in sy weiering om die vereiste raadsvergadering te belê.”

Volgens Mulder is die partye in die koalisie ook gereed om die howe te nader om te verseker dat ʼn raadsvergadering belê word.

“Die veelpartykoalisie sal enige pogings deur die ANC en EFF om by die agterdeur in te kom teenstaan. Alle partye bly daartoe verbind om te veg vir die inwoners van Tshwane en teen die hebsug en persoonlike ambisie van nog ʼn Cope-speaker.”

Maroela Media het vroeër berig die DA se Cilliers Brink is die koalisie se nuwe burgemeesterskandidaat vir Pretoria.

Dit kom nadat Randall Williams verlede Maandag sy bedanking as burgemeester ingedien het. Hy het aanvanklik aangedui dat sy bedanking om middernag in werking sou tree, maar het later ʼn gewysigde brief gestuur waarin hy sê dat sy bedanking op 28 Februarie in werking sal tree.

Die tydperk is verleng om te verseker die metroraad se werk gaan ononderbroke voort en dat die burgemeesterskomitee bly bestaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Koalisie is SA? Met entitled kaders en krip vreters as deel van die span? Mags mal selfaangewese anargiste wat hule eie ek in dink en doen voor hou.

My siening ·

As dit so aangaan is ons in die hande van ANC EN EFF, julle baklei vir mag word groot Cope en DA julle speel met die kiesers se stemme!

Pierre ·

n Politikus sal n Politikus bly en hulle gee slegs vir hulle en hulle self om, maak nie saak watse party aan bevind is nie

Kokerboom ·

Politiek is gif!!!Dit kaap land en hou dit gevange met geen groei en vooruitgang!

Marthinus Johannes ·

Hulle sal nie rus voor daar weer n ANC aan bewind is nie, daar is Baie geld wat wag op hulle sakke.

Boksombende ·

Daar kan nie ‘n koalisie wees wanneer almal daar is om net hulself te baat nie.

Paul ·

Onthou malemmer het gesè hy sal saam met die anc werk op een voorwaarde hy word president dan is dit nag vir ons

Vernon ·

Die ANC soek nie dat ander partye moet regeer nie,al kan en sal hulle nooit ooit kan nie. Hulle hou daarvan op n troon te sit en af te kyk..self gebeur daar niks. Hulle sal nie ophou om PRETORIA terug te wil kry nie,gebruik altyd vuil taktiek. Die bietjie wat in die koffer is..soek hulle. Boonop is CB nou weer n wit persoon,dit gaan hulle net meer aanspoor. Erken nou maar..ANC julle kan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.