TT Cloete: ‘Ons eer sy nagedagtenis’

Prof. TT Cloete. Foto: kknk.co.za

Prof. TT Cloete. Foto: kknk.co.za

Die afsterwe van prof. TT Cloete (91) laat nie net ʼn leemte in die gemeenskap van Potchefstroom en veral die universiteit nie, maar ook in die literêre lewe van Afrikaans.

Só het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê in reaksie op die geliefde en bekroonde digter se afsterwe Woensdag.

“Hierdie stelling mag geyk klink, maar daar is min mense oor wie ná hul afsterwe onteenseglik gesê kan word dat hul bydraes wyd geag word oor die terreine van die letterkunde, digkuns, drama, prosa en godsdienstige literatuur.”

Meer as 150 wetenskaplike artikels het uit sy pen gekom, terwyl vertalings uit Frans deel was van sy omvattende begrip van die letterkunde, ook buite Suid-Afrika. “Die meer as 20 toekennings en ander pryse vir sy werk staan vandag as monumente vir sy onuitwisbare invloed op die Afrikaanse literêre terrein. Hy mag nie meer met ons wees nie, maar daar is troos uit sy eie mond oor sy heengaan.”

In “Allofonie”, Allotroop (1985) staan die volgende:

“Niks bly

soos dit is nie. Soos snoei

is ook aanplant sny …”

“Terwyl ons dus sy wegsny uit ons midde betreur, is dit wat hy vir Afrikaans geplant het onteenseglik en onuitwisbaar. Ons eer sy nagedagtenis,” het Buys gesê.

Klik hier vir alle vorige berigte oor prof. TT Cloete op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.