Tuinier en makker skuldig aan moord op bejaarde egpaar

Riedwaan en Rugeya Addinall (Foto: Facebook)

ʼn Tuinier en sy makker is skuldig bevind aan die moord op ʼn bejaarde egpaar vir wie hy gewerk het.

Riedwaan en Rugeya Addinall, albei 82 jaar oud, is in Januarie 2019 deur hul seun, Kenwyn, dood in hul huis in Ottery in Kaapstad aangetref. Kenwyn het gaan ondersoek instel nadat sy ouers nie die telefoon geantwoord het nie.

Gcinilelitha Ngcobelothe en Lwazi Ntsibantsiba is vroeër die week in die Wes-Kaapse hooggeregshof daaraan skuldig bevind dat hulle die bejaarde egpaar verwurg het. Daar is ook rotgifkorrels in Rugeya se mond gevind. Die twee is ook aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Die twee moordenaars het die oorledenes se huis geplunder en huishoudelike items in hul voertuig gelaai. Hulle kon egter nie die voertuig aangeskakel kry nie en het te voet met van die items gevlug.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat sal die hof versoek om die twee tot lewenslange tronkstraf te vonnis wanneer vonnisverrigtinge in November begin.

Volgens Ntabazalila het Ngcobelothe en Ntsibantsiba die skuld op mekaar begin pak tydens die verhoor. Ngcobelothe, wat jare lank vir die Addinalls as tuinier gewerk het en wat Ntsibantsiba na die eiendom gebring het onder die voorwendsel dat hulle gaan saamwerk, het aan die hof gesê hy was nie by toe die moorde gepleeg is nie. Hy het beweer nadat hy by die huis aangekom het, is hy gevra om vir die egpaar kruideniersware te gaan koop en dat hy later na Kraaifontein gereis het om ʼn verstopte drein vir ʼn ander kliënt van hom skoon te maak.

Ntsibantsiba het aan die hof gesê hy was nog nooit by die Addinalls se eiendom nie en het hulle nog nooit gesien of ontmoet tot die dag toe Ngcobelothe hom na die huis gebring het nie. Hy het beweer Ngcobelothe het hom aangesê om in ʼn oop stuk veld te wag terwyl hy met sy werkgewer gaan praat.

Hy het getuig hy het ure lank gewag voor Ngcobelothe hom kom vra het om hom te vergesel om inkopies vir sy werkgewers te doen. Hy het aangevoer hy het die oorledenes se liggame gesien toe hulle teruggekeer het van die inkopies.

Ter versterking van sy saak dat hy nie by die moorde betrokke was nie, het Ngcobelothe ʼn getuie geroep om te bevestig dat hy na Kraaifontein is om ʼn verstopte drein reg te maak. Die getuie het egter nie vir kruisondervraging opgedaag nie en ʼn lasbrief is vir sy inhegtenisneming uitgereik. Hy het na die hof teruggekeer en erken dat sy getuienis in alle opsigte ʼn leuen was. Ngcobelothe het by monde van sy regsverteenwoordiger gesê hy sal nog getuies roep om sy alibi te bevestig, maar hy het geen getuies geroep nie.

Ngcobelothe het ook die staat se getuies van onbehoorlikheid beskuldig en aangevoer daar is met bewyse gepeuter om hom valslik by die misdade te betrek, maar die hof het die bewerings van die hand gewys. Baie van die getuies het die hof van kringtelevisiebeeldmateriaal van hul huise voorsien en getuig toe hulle die beskuldigde in die oorledenes se erf en langs die voertuig gesien het. Die polisie se ondersoek het ook Ngcobelothe se vingerafdrukke op die voertuig gevind en hy het aan die hof gesê hulle was daar aangesien hy die voertuig op die dag gewas het. Die hof het ook Ntsibantsiba se weergawe dat hy ʼn onskuldige omstander is wat deur Ngcobelothe gedreig is, van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.